Seinfeld is terug, soort van
2009-09-15 09:18
Los Angeles- Die Seinfeld-reünie, wat die skeppers van die reeks beloof het sal nooit gebeur nie, sal uiteindelik volgende maand op die kassie wees.
Die vier sterre van die “televisiereeks oor absoluut niks” sal almal saam in die nuwe seisoen van HBO se Curb Your Enthusiasm verskyn, amper 11 jaar nadat hulle karakters in die oorspronklike reeks in die tronk gegooi is.
En in die unieke styl van Seinfeld sal daar geen drukkies of verwelkomings wees soos mens met dié tipes reünies verwag nie.
Hierdie hereniging van die karakters is in werklikheid eintlik glad nie ‘n reünie nie. Want nie Jerry Seinfeld, Julia Louis-Dreyfus, Michael Richards of Jason Alexander is regtig lus vir die uitdagings wat daarmee saamkom nie.
“Saamkom? ...waarom gaan eet ons nie eerder iets lekker nie,” stel Seinfeld voor in een van die episodes waar hulle hom kamstig uitnooi om weer aan die program te werk.
Dié episodes beloof om “uitmuntend” te wees.
Die spul van Seinfeld sal in vyf van Curb se 10 episodes verskyn en sal op 4 Oktober in Amerika uitgesaai word.
–Reuters