Seether kook in Amerika
2011-06-17 07:08
Johannesburg – Die alternatiewe metalgroep Seether het lang treë
gegee sedert hy in die laat-1990’s in Pretoria en op kampusse musiek
begin maak het.
Sy jongste CD, Holding Onto Strings Better Left
to Fray, het pas in die tweede plek op die Amerikaanse Billboard
200-trefferslys gedebuteer.
Dit is die beste posisie wat die
groep tot dusver op die trefferslys behaal het en wat verkope betref,
was daar ’n verbetering van sowat 10% in die eerste week vergeleke met
sy vorige CD, Finding Beauty in Negative Spaces.
Die album se
eerste radiosnit, “Country Song”, vaar ook baie goed op Amerikaanse
radiostasies se trefferslyste en beklee reeds drie no. 1-plekke.
Die album word vandeesweek in Suid-Afrika bekend gestel, maar weliswaar nie in dieselfde formaat nie.
Plaaslik sal dit ’n luukse CD- en-DVD-uitgawe met bonussnitte wees.
Seether
bestaan uit die sanger, kitaarspeler en liedjieskrywer Shaun Morgan en
die baskitaarspeler Dale Stewart, albei van Suid-Afrika, en ’n
Amerikaanse tromspeler, John Humphrey.
Die groep was oorspronklik
bekend as Saron Gas en sy debuutalbum, Fragile, het in 2000 in
Suid-Afrika verskyn, waarna ’n Amerikaanse platemaatskappy begin belang
stel het.
Die groep het kort daarna Seether geword.
Dit
was Morgan-hulle se 2002-vrystelling Disclaimer wat die aandag van die
Amerikaanse publiek getrek het. Die snit “Fine Again” is ingespan vir
die videospeletjie Madden 2000 en ’n speelbeurt op daardie jaar se
Ozzfest-toer het verder gehelp om hul naam te vestig.
Strings...
is Seether se vyfde ateljee-album. Oor die nuwe album sê Morgan op die
groep se webblad: “Ek skree nie te veel op hierdie album nie, want dit
is nie wat ek wou doen nie.”
Op sy webblad word daar gepraat van ’n nuwe rigting, maar sonder dat die tradisionele Seether-klank prysgegee word.
Die
vervaardiger Brendan O’Brien, wat al saam met Rage Against the Machine,
AC/DC en Pearl Jam gewerk het, was die dryfveer agter die nuwe album.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld