Seal beweer Heidi het hom verkul
2012-09-03 10:20
Los Angeles – Die sanger Seal beweer sy eksvrou, Heidi Klum, het hom met een van hul lyfwagte verkul.
Die Kiss from a Rose-sanger blameer Klum se romanse met Martin Kristen vir hul egskeiding in Januarie. Die paartjie was sewe jaar lank getroud en het vier kinders saam.
“Dit is mos maar wat gebeur as twee mense uitmekaar is, hulle beweeg aan en ontmoet nuwe mense,” het Seal aan die skinderwebwerf TMZ gesê.
“Ek het nie verwag dat Heidi ‘n non moet word nie. Maar soos altyd, is my prioriteit die emosionele welstand van my kinders, en om eerlik te wees, as daar dan nou iemand anders in hul lewe moet wees, dan is ek bly dit is ten minste ‘n bekende gesig.”
“Ek het nie regtig iets anders van hom (die lyfwag) verwag nie, maar ek het gedink dat Heidi bietjie meer klas sou hê en ten minste sou wag tot ons uitmekaar was voordat sy my met die lyfwag verneuk het. Ek skat julle het nou die antwoord waarna julle al die afgelope sewe maande soek.”
Ten spyte van Seal se bewerings hou Klum egter vol dat haar verhouding met Kristen, wat al vier jaar vir hulle werk, streng professioneel was tydens haar huwelik.
‘n Vriend van die supermodel het erken dat Klum en haar lyfwag sedert haar egskeiding baie geheg aan mekaar geraak het. Seal se partytjie-maniere het glo ook ‘n groot aandeel gehad in die verbrokkeling van die huwelik.
“Dit is hartseer, maar nie verrassend dat hy verskonings sal soek vir die rede hoekom hulle uitmekaar is nie,” het die vriend gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz