Seal: 'Ons sal beleefd bly teenoor mekaar'
2012-01-24 09:19
Los Angeles – Die Britse sanger Seal hou vol dat hy en die Duitse supermodel Heidi Klum steeds lief is vir mekaar, ten spyte van die feit dat hulle gaan skei.
Hy het onderneem om “beleefd” te bly om die kinders se onthalwe.
Hy het in ‘n Amerikaanse televisie-onderhoud, wat later vandeesweek uitgesaai word, gesê die situasie is “moeilik”, maar dit word makliker omdat hulle nog gevoelens vir mekaar het.
“Ons het ongelooflik baie liefde en respek vir mekaar. Ek dink nie jy hou skielik op om lief te wees vir mekaar nie,” het hy aan Travis Smiley, aanbieder van die televisieprogram, gesê.
“Wat ‘n persoon in die omstandighede moet doen, is om beleefd te bly, jou waardigheid te behou, om professioneel te bly en te verstaan dat ons nie die enigste mense op hierdie planeet is nie; dat dit net, ongelukkig, ‘n hoofstuk in ‘n mens se lewe is.”
Die paartjie het 2005 getrou en het drie kinders saam. Seal het ook Klum se dogter uit ‘n vorige verhouding met die voormalige Formule Een-baas, Flavio Briatore, aangeneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA