Seal: 'Ons kan dalk weer saam wees'
2012-01-26 14:21
Los Angeles – Seal het gesê hy en Heidi Klum sal dalk weer met mekaar versoen kan raak.
Die sanger en sy supermodel-vrou, wat vier kinders saam grootmaak, het Sondag bekendgemaak dat hulle paadjies gaan skei.
“Ek is lief vir haar met my hele hart. Hoe kan jy nie lief wees vir iemand saam met wie jy agt jaar lank was nie?” het hy op Piers Morgan se CNN-program gesê.
Op die vraag oor of hulle weer bymekaar sal kan uitkom, het hy gesê: “Jy kan nooit sê nooit nie. Ek kan nie namens my vrou praat nie en ek gaan nie hier sit en vir jou heuning om die mond smeer en sê ons het nie probleme nie. Natuurlik het ons probleme, hoekom anders is ons uitmekaar?
“Hierdie is nie ‘n charade nie. Ons het probleme, ons het kwessies, maar ons kon nog altyd oor ons probleme praat en dit aanspreek. Om te aanvaar dat enige paartjie nie baklei nie is net nonsens.
“Ek weet in die stadium nie of ek weer die verhouding wil hervat nie. As dit so maklik was, was ons nog saam, dit is die realiteit.
“Ek het altyd vir my vrou gesê, die ding waarvan ek die meeste hou is dat ons ‘n span is. Ons is ondeurdringbaar in daardie opsig.
“Of ons weer saam gaan opeindig of nie, dit kan gebeur, ek kan nie namens haar praat nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- BangShowBiz