Schuster en 'vriendin' laat die tonge klap
2011-10-13 07:03
Johannesburg – Sy lag, hy glimlag aanhoudend. Dit is hoe die rolprentmaker, akteur en grapjas Leon Schuster en Leané du Plessis (28), hoof van mediaskakeling by AfriForum, reageer op vrae oor hul nuwe “vriendskap”.
’n Vriendskap wat eintlik nog ’n geheim is.
“Ons het nog nie besluit of dit ’n toekomstige verhouding is nie,” het Schuster Woensdag versigtig gesê en ondeund bygevoeg: “Ek is bleddiewil ’n paar jaar ouer as sy. As ons in ’n formele verhouding was, sou ek vir haar ’n ring gekoop het.”
Vir eers nie noodwendig ’n trouring nie, maar dárem, sê hy en knipoog.
Schuster vat-vat aan die sestig.
Du Plessis, toe nog ’n Beeld-verslaggewer, het Schuster in Februarie by ’n gedenkdiens vir Fanus Rautenbach ontmoet.
“Ek het haar in Julie toe die eerste keer uitgeneem,” het Schuster gesê.
“Ek kan met haar práát. Sy is ’n wonderlike en intelligente vriendin.
“Sy is baie kundig oor die politieke situasie in die land en sy het ’n lieflike sin vir humor.
“Sy is reeds ’n geruime tyd my vriendin. Ons is tans in ’n vriendskapsverhouding waar ons al twee bewus is van die groot ouderdomsverskil.”
Nadat sy huwelik met Lalie in 1999 skipbreuk gely het, is Schuster ook soveel versigtiger.
Hy het ook vier kinders (30 jaar oud, 28 jaar oud en ’n tweeling van 22 jaar oud).
In dié stadium speel verhoudings tweede viool weens die uitdagings wat sy jongste fliek, voorlopig genoem Bad Buddies, aan hom stel. Die fliek sal teen volgende jaar Julie op die silwerdoek wees.
“Intussen is ons net rêrig goeie vriende,” het Du Plessis gesê en net gelag oor die vraag oor ’n verhouding.
“In dié stadium geniet ons mekaar se geselskap. Leon is iemand op wie ’n mens kan peil trek en wat ek kan waardeer om sy volwassenheid.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld