Schuster beloof weer groot pret
2012-01-07 11:39
Kaapstad – Seer maagspiere en mense wat brul soos hulle lag is wat fliekgangers van die Suid-Afrikaanse komediekoning Leon Schuster se nuwe fliek, Mad Buddies, kan verwag.
Só het Helena Spring, een van die vervaardigers van die rolprent, gesê.
Volgens haar moet fliekgangers hulle gereed maak om lekker te lag.
“Hulle kan verwag om te brul van die lag, danksy die rolprent se aksiebelaaide toertjies,” het sy gesê.
Schuster het van sy ou makkers soos Alfred Ntombela, Kenneth Nkosi (van White Wedding-faam) en Gary Hofmeyr, wat in die regisseurstoel sit, ingespan om saam met hom aan dié komedie te werk.
Ntombela en Hofmeyr het voorheen saam met Schuster aan die lokettreffers Schuks Tshabalala’s Survival Guide to South Africa en Mr Bones gewerk.
“Leon het ’n dinamiese werksverhouding met Gary en Alfred wat reeds wonderlike prente opgelewer het. Dit is ’n wenkombinasie, en met Nkosi en Tanit Phoenix daarby, is dit regtig iets waarna fliekgangers kan uitsien,” het Spring bygevoeg.
In Schuster se jongste avontuur bevind Boetie (Schuster) en Beast (Nkosi) hulle op die langpad met lagwekkende gevolge. Die twee se eskapades word boonop vir ’n realiteitsreeks verfilm, onder leiding van Kelsy (Phoenix), wat die reeks vervaardig.
Volgens Spring is Mad Buddies reeds in November verfilm en die redigering word nou gedoen. Die verfilming is in Gauteng en KwaZulu-Natal gedoen.
“Die verfilmingsproses is soos ’n naelloop vergeleke met die na-produksiewerk, wat soos ’n marathon is.
“Die taak is nou vir die vervaardigingspan om, saam met Leon en Gary, al die materiaal in 100 minute van aaneenlopende vermaak vas te vat,” het Spring gesê.
Die rolprent word op 22 Junie uitgereik.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger