Schalk Burger haak af
2011-12-02 13:34
Kaapstad – Die Springbok-rugbyspeler Schalk Burger en sy verloofde, Michele de Munck, trou Saterdag op 3 Desember, het Welbedacht-plaas op hul Twitter-blad bekendgemaak.
"Besig om alles gereed te kry vir Schalk jnr. se troue met die kelder en Groenberg in die agtergrond," het hulle op Twitter bekendgemaak.
Burger en De Munck het verlede jaar op 23 Oktober verloof geraak, maar het dit vir 'n hele ruk geheim gehou, het Times Live verlede jaar op hul webwerf bekendgemaak.
Dié twee was in Desember by die opening van die Puma sosiale klub in Kaapstad, toe die verloofring aan Munck, 'n binnenshuise versierder, se vinger gesien is.
'n Werknemer van die plaas het aan Nuus24 bevestig dat Burger Saterdag op die plaas trou en het gesê hulle is tans besig om alles gereed te kry.
"Ek weet niks van die troureëlings af nie en weet ook nie waar hulle gaan wittebrood hou nie," het die man gesê en afgelui voordat sy naam gekry kon word.
Christine Meintjes, die paartjie se fotograaf het Donderdag op haar Facebook-blad geskryf sy is op pad na Kaapstad vir 'n groot vergadering met Burger en De Munck oor hul troue.
"Kan nie wag vir die naweek nie," het sy gesê.
Meintjies het vroeër in die jaar ook op Facebook geskryf dat sy deur die paartjie gevra is om hul troufoto's vir 3 Desember te neem.
Welbedacht-plaas het ook bekendgemaak dat Burger se suster, Rene, op 7 Januarie trou.

– Volg Nuus24 op Twitter.