Sasha Martinengo en 5FM se paadjies skei
2012-02-08 10:11
Kaapstad – Die omroeper en renmotor-foendi Sasha Martinengo en die radiostasie 5FM se paadjies gaan skei.
Die radiostasie het Woensdag in 'n amptelike verklaring bekend gemaak dat Martinengo, ná 17 jaar op die lug, die radiostasie einde Maart gaan verlaat.
Aisha Mohamed, stasiebestuurder, het gesê veranderinge in die uitsaaigleuwe is ongelukkig deel van die radiolandskap.
"Sasha sal ongelukkig vanaf April nie meer met ons wees nie. Die verandering kom as deel van 'n langtermyn strategiese plan om ons aanbiedinge te hersien.
"Ons waardeer Sasha se ongelooflike werketiek, sy toewyding aan die luisteraars en sy ondersteuning van die 5FM-handelsnaam. Die radiostasie moet egter, net soos ons luisteraars, verander."
Martinengo het op sy beurt luisteraars bedank vir al die jare van "pret en ondersteuning".
"My werk by 5FM was nie net 'n werk nie, dit was my lewe. Ek wil graag dink ek het my luisteraars oor die jare vermaak. Ek het 'n briljante tyd gehad en ek sal my 5FM-familie mis."
Martinengo het in 1994 by 5FM aangesluit en het in November sy 5 000ste radioprogram gevier, berig Channel24.
"Ek sal steeds op Absolute F1 op SuperSport te sien wees," het hy getweet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24