Sanger wat bedmaat MIV gee kry nie tronkstraf
2010-08-27 11:54
Kaapstad – Die Duitse popster Nadja Benaissa, wat nie haar bedmaats ingelig het dat sy MIV-positief is nie, is Donderdag skuldig bevind dat sy ernstige liggaamlike skade berokken het.
Benaissa het onbeskermde seks met haar bedmaats gehad.
Die 28-jarige Benaissa, wat aan die popgroep No Angels behoort, het aan die hof erken sy het nie haar bedmaats van haar status ingelig nie.
Sy is ‘n opgeskorte vonnis van twee jaar gegee.
Staatsaanklaers het ‘n ‘sagte’ vonnis versoek omdat Benaissa skuld erken het en ook berou getoon het.
“Ek het ‘n baie groot fout begaan, en was bang vir wat kon gebeur indien die publiek moes uitvind ek is MIV-positief,” het Benaissa Woensdag aan die hof in Duitsland gesê.
“Ek was ‘n lafaard, en is jammer uit die diepte van my hart. Ek wens ek kon die tyd terugdraai.”
Benaissa is daarvan aangekla dat sy ernstige liggaamlike skade berokken het nadat sy ‘n 34-jarige man met die virus besmet het.
Sy is ook van poging tot ernstige liggaamlike skade aangekla nadat sy met ‘n ander man tussen 2000 en 2004 onbeskermde seks gehad het.
Benaissa moet nou 300 uur gemeenskapsdiens doen en gereeld beradingsessies bywoon.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters