Sanger sing hele 'hel'-nag in selle
2011-07-25 07:05
Johannesburg – Die Kaapse sanger Anthonie Bougas is Donderdag in Carletonville op aanklag van diefstal gearresteer en het die nag in die polisieselle deurgebring.
Hy het Sondag vertel hy het dwarsdeur die “nag van ewige hel” gesing om te keer dat “14 geharde misdadigers” hom fisiek aanrand.
Lede van die speurtak het Bougas Donderdagaand onmiddellik ná ’n vertoning in die saal van die Laerskool Dagbreek in hegtenis geneem.
Hy het die volgende oggend in die plaaslike landdroshof verskyn en is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy moet weer op 5 Augustus in die hof verskyn.
Bougas het gesê sy nag in die selle was “die verskriklikste ervaring van my hele lewe”.
“Elke nuwe aankomeling in die betrokke sel is aangerand en met ’n mes op die arm gesny. Een polisieman het aan die 14 ander mense in die sel gesê ek is ’n sanger. Ek moes toe die hele nag deur vir hulle sing om hulle tevrede te hou, anders sou ek ook aangerand word.
“Ons het op ’n yskoue sementvloer gesit. Een van die mans het begin vatterig raak. Ek het dadelik langs ’n ander man gaan sit wat vriendeliker gelyk het. Dit was bitter koud en die toilet was so smerig dat ek dit net nie kon gebruik nie.”
André Venter, ’n makelaar van Carletonville, het die klag teen Bougas ingedien. Sy dogter, Zahn, het verlede jaar ’n deposito betaal om met Bougas se hulp ’n musiekvideo te maak.
Venter het gister gesê hy het die maak van die video later gestaak.
Bougas wou nie die deposito terugbetaal nie omdat ’n liedjieskrywer glo reeds vir Zahn se opname betaal het. Ook die opname-ateljee en die agent wat die produksie sou beheer, is reeds met die depositogeld betaal, het Bougas gesê.
Venter het gesê hy het Donderdagoggend ’n klag van diefstal teen Bougas ingedien toe hy verneem het die sanger tree in
Carletonville op.
Gevra of die hele aangeleentheid nie eerder met ’n siviele geding opgelos kan word nie, het Venter gesê: “Dis iets wat ek nie met die pers gaan bespreek nie.”
Hy het dieselfde geantwoord op ’n vraag of hy sal oorweeg om die klag terug te trek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld