Sanger siek vir 'Gangnam Style'
2012-12-03 16:25
Singapoer – Die Suid-Koreaanse popsensasie Psy het die afgelope naweek gesê hy raak soms siek vir sy treffer "Gangnam Style".
Die 34-jarige sanger, wie se regte naam Park Jae-Sang is, was Saterdag op 'n mediakonferensie voor 'n gratis vertoning in Singapoer beskeie oor sy roem en het gesê hy is maar net nog 'n kunstenaar wat sy werk doen.
"Soms word ek eerlikwaar moeg en siek daarvan, omdat ek soveel versoeke kry om dit vir mense te leer, jy weet, laat ek sê ek kry 50 versoeke per dag, per land," het die sanger gesê.
"Ek het reeds die dans vir so baie mense, so baie keer geleer, so natuurlik raak ek soms moeg daarvoor, maar ek moet dit doen, dit is my werk."
Psy het later die dans voor gillende aangangers gedoen en het gesê dit maak nie saak hoeveel keer hy die dans gedoen het nie, "ek hou steeds daarvan".
"Gangnam Style", wat handel oor die luukse leefstyl van inwoners van 'n spogbuurt in Seoel, het baie aanhangers geïnspireer om hul weergawe van dié dans op YouTube te laai.
Die liedjie het Psy 'n benoeming besorg vir die tydskrif Time se persoon van die jaar. Ander nuusmakers, soos pres. Barack Obama, Xi Jinping (59), hoof van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-Un, is vir die toekenning benoem.
Psy dink egter nie hy gaan bo-aan dié lys eindig nie.
"Dit voel regtig vreemd en snaaks om op die lys te wees. Dit gaan nie gebeur nie, ek dink nie ek verdien dit nie. Ek het net my werk gedoen."
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP