Sanger het na drank geruik, hoor hof
2013-01-23 10:33
Kaapstad – Die musikant Arno Carstens het na drank geruik en was onvas op sy voete toe hy 'n paar jaar gelede vir dronkbestuur in hegtenis geneem is, het die Kaapstad-landdroshof gehoor.
Konst. Lionel Galant het Dinsdag aan die hof gesê hy het op 19 Desember 2010 omstreeks 23:00 'n swart Mercedes-Benz met donker vensters agternagesit, maar dat die motor elke keer in systrate afgedraai het, berig die Cape Argus.
Die motor, wat deur die voormalige Springbok Nude Girls-sanger bestuur is, het uiteindelik stilgehou toe Galant die sirene aanskakel.
"Ek het hom gevra om uit te klim en gesien dat hy onvas is op sy voete en na alkohol ruik," het die polisieman gesê.
"Ek het die beskuldigde gevra of hy enigiets gedrink het. Hy het gesê ja en dat hy pas van 'n partytjie af gekom het, waar hy 'n paar biere gehad het."
Carstens het die bewerings ontken.
Sy regsverteenwoordiger, Milton de la Harpe, het volgens die berig gesê hy sal bewyse voorlê dat alkohol nie geruik kan word nie en dat 'n persoon om verskeie redes onvas op sy voete kan wees.
De la Harpe het Galant ook daarvan beskuldig dat hy sy bewyse gefabriseer het nadat hy transkripsies van die saak nagegaan het.
Die verhoor duur Woensdag voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA