Sanger help wonde by skool heel
2012-02-11 10:00
Johannesburg – Vier maande nadat die 16-jarige Louise de Waal van die Hoërskool Die Burger in Roodepoort ontvoer en vermoor is, het die gospelsanger Retief Burger Vrydag by die skool gehelp om wonde te genees.
Basie Smit, skoolhoof, het gesê dit sal nog ’n ruk duur voordat die wonde genees.
Volgens Barnie Lötter, adjunkhoof, het leerlinge vroeër al ’n roosboom geplant ter herinnering aan Louise. Beraders van die polisie en die onderwysdepartement het ook ’n groot rol gespeel.
Burger se optrede was nog ’n tree op dié pad. Dit is gereël deur ’n netwerk van kerke in die omgewing wat die skool ondersteun.
Burger het ’n plastiekwaterbottel voor die kinders in die lug gehou en gewys hoe maklik hy dit met sy hand inmekaar kan druk.
As dit vol sement was, sou hy dit glad nie kon doen nie, het hy gesê.
So, het hy aan die skool gesê, gaan dit ook met die druk wat die lewe op ’n mens uitoefen. Hy het verwys na pynlike gebeure soos die moord op Louise, maar ook na groepsdruk op kinders om hulle oor te gee aan drank, dwelms en seks.
Burger het vertel dat hy op skool ook voor sulke druk geswig het en maande daarna met skuldgevoelens geloop het.
Dit het vir hom gevoel of hy met ’n rugsak vol bakstene moes rugby speel. Dit het hom byna tot selfmoord gedryf.
Toe het hy die Rots van die eeue, Jesus Christus, in sy lewe ingenooi. Dit het hom help staande bly.
Burger het aan die kinders gesê al voel hulle soms alleen, al voel dit of niemand hulle liefhet nie, dink die Skepper aan elkeen van hulle.
“Ek het nie al die antwoorde nie, maar al wat ek weet, is God is hier en Hy is lief vir jou,” het hy hulle verseker.
Verteenwoordigers van kerke van die omgewing was beskikbaar om met kinders te praat wat dit nodig gehad het.
Hulle het ook boekmerke met hul kontakbesonderhede uitgedeel sodat kinders by hulle kan uitkom.
Dr. Willem Wiid van die NG gemeente Waterval het gesê die kerke wil voortgaan om die skool te ondersteun.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld