Sanger Lucas Maree uit hospitaal
2010-11-22 09:50
Kaapstad - Dit gaan beter met Lucas Maree ná hy in die hospitaal opgeneem is met 'n bloedklont in die been.
Volgens sy vrou, Ilse, is dit waarskynlik 'n gevolg van die chemoterapie wat Lucas vir sy verspreide kanker gekry het. "Die terapie beskadig die limfkliere en dit kon die klont veroorsaak het."
Lucas sal waarskynlik nog ses maande op 'n bloedverdunningsmedikasie moet bly. Hy dra ook chirurgiese kouse.
Uit sy hospitaalbed spot hy saam.
"Ek soek nou so 'n kous om my hele lyf te laat mooi lyk." Dit is 'n week met gemengde gevoelens vir die siek sanger. Een van sy beste vriende, die fotograaf Paul Alberts, is Donderdag aan kanker oorlede.
Die goeie nuus is dat die CD wat Lucas se vriende, waaronder Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Dozi en Danie Niehaus saam opgeneem het om geld vir sy mediese onkoste te betaal, reeds binne 2 weke op RSG se top-20 is. Een uit 'n miljoen is by sommige winkels reeds uitverkoop.
Lees meer by Sarie.com.