Sanger Gerhard Steyn wou nie meer leef
2012-01-21 07:39
Johannesburg – Die “Baby tjoklits”-sanger Gerhard Steyn het “twee of drie keer” selfmoord probeer pleeg, onder meer deur sy polse te sny en ’n oordosis pille te drink.
“Ek wou alles met my vuiste regmaak.
“Ek het twee of drie keer probeer selfmoord pleeg.
“Ek het actually ’n oordosis pille gedrink en my polse gesny.
“Dis nou baie diep goed wat ek met jou deel,” sê Steyn in ’n onderhoud in die jongste uitgawe van die tydskrif Sarie, sustertydskrif van Beeld.
Hy het ná sy ouers se egskeiding “soos ’n drukkoker ontplof”.
“Tot onlangs was daar stories (oor Steyn wat in vuisgevegte betrokke geraak het). Dis nie leuens nie.”
Hy was op die punt om sy sangloopbaan te laat vaar, maar toe kom “Baby tjoklits”, ’n liedjie wat hy self geskryf het.
“Ek het een oggend in die stort gestaan en vir myself gesê ek doen alles in my vermoë (as sanger), maar dit happen nie.
“Ek show vir R500 hier en vir R250 daar, ’n bord kos hier en ’n bier daar.
“Ek het net gesê: ‘Here, ek probeer alles, ek gee alles. Ek kan nie meer nie.’
“Ek het begin huil – die soort huil van ’n man wat voel sy manwees beteken niks. In daardie stadium was ek vyf paaiemente agter op my kar.
“Ek onthou ek het die verskil gevoel tussen my trane en die water wat uit die stortkop oor my gesig geloop het.”
Net ’n week later het “dinge begin gebeur” en het “Baby tjoklits” een van die grootste Afrikaanse treffers van die jaar geword.
Me. Lydia Winchester, sy woordvoerder, het gister gesê Steyn vat “iewers” ’n blaaskans en is onbereikbaar.
“Selfs ek kry hom nie in die hande nie. Hy kan selfs in die buiteland wees.”
- Beeld