Sandra Prinsloo en prof nie meer saam
2012-02-08 07:01
Johannesburg – Die veteraan-aktrise Sandra Prinsloo se verhouding van sewe jaar met prof. Willem van Riet het op die rotse geloop.
Die paartjie het kort voor Kersfees besluit om elkeen hul eie paadjie te stap.
Prinsloo, wat tans die regie doen van twee stukke wat by die KKNK opgevoer gaan word en tussendeur ook skiet aan die TV-drama Erfsondes, het die verbrokkeling van haar verhouding met Van Riet gister bevestig.
In ’n onderhoud met Beeld in Julie 2009 het Prinsloo Van Riet só beskryf: “My groot romance, nie my man nie, nie my vriend nie, my life partner.”
“Ek het nooit die omvang van Willem se betrokkenheid by projekte in Swede besef nie.
“Daar gebeur in elke mens se lewe dinge waaroor jy moet besluit: Gaan ek op dieselfde pad stap of gaan ek aanbeweeg en my eie pad stap? Ek het besluit om, wat Willem betref, my eie pad te stap.”
Getrou aan haar reputasie dat sy baie selde oor haar private lewe praat, het Prinsloo gesê sy gaan geen kommentaar lewer op hardnekkige stellings van haar naaste vriende dat “’n vrou van oorsee” ’n rol gespeel het in die verwydering tussen haar en Van Riet nie. Van Riet, ’n omgewingskonsultant wat sy werk veral in de buiteland doen, het gister gesê hy ontken dat ’n ander vrou die oorsaak was dat sy en Prinsloo se verhouding skipbreuk gely het.
“Ek en Sandra is uitmekaar gedryf deur ons albei se baie vol programme en die min tyd wat dit ons vir mekaar gelaat het.
“Sandra is ’n fabulous mens en ek bly lief vir haar. Die werklikheid is egter dat ek en sy uiteen gedwing is deur omstandighede.”
Prinsloo en Van Riet se verhouding het in 2006 hoofopskrifte gehaal toe Van Riet se vrou ’n eis teen Prinsloo ingestel het as ’n derde party in hul huweliksverbrokkeling.
Die eis is laat vaar toe Van Riet en sy eksvrou geskik het.
Prinsloo sal in die paartjie se huis in Kalkbaai aanbly.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld