Sama: Lira weér beste vroulike kunstenaar
2010-04-19 09:11
Sun City – Die sangeres Lira, wat vanjaar op die Suidoosterfees met groot lof opgetree het, is Saterdagaand tydens die 16de jaarlikse MTN Suid-Afrikaanse musiekpryse (Samas) vir die tweede jaar agtereenvolgens as beste vroulike kunstenaar aangewys.
Verlede jaar het sy dié prys vir Soul in Mind, wat toe ook die album van die jaar was, gewen. Vanjaar kry sy dit vir Live In Concert: A Celebration.
Teenoor haar is Black Coffee as beste manlike kunstenaar aangewys vir Home Brewed. Die album van die jaar, en ook die beste kwaito-album, was Big Nuz se Undisputed, met hul liedjie “Umlilo” as die publiek se keuse vir liedjie van die jaar.
Jaziel Brothers is aangewys as groep van die jaar vir The Journey, terwyl die nuweling van die jaar Tshepo Mngoma is met People and Places.
Kunstenaars is Vrydag- en Saterdagaand hier in die Superbowl oor alle genres in die plaaslike musiekbedryf vereer.
’n Hoogtepunt van Saterdag se seremonie, met Trevor Noah as aanbieder, was die gesamentlike optrede van Louise Carver en The Parlotones met laasgenoemde se “Push Me To The Floor”.
Die groep het ook ’n beeldjie vir beste rockalbum (Engels) gekry vir hul Stardust Galaxies.
Talle Afrikaanse sangers het pryse gewen. Bok van Blerk se CD Afrikanerhart is aangewys as die album wat in die voorafgaande jaar die beste in die land oor alle genres heen verkoop het.
Kurt Darren se “Kaptein” is aangewys as die “true tone”-selfoondeuntjie wat die beste verkoop het, en sy “Af en Af” het die beeldjie gekry vir die volle liedjie wat die meeste elektronies afgelaai is.
Die DVD wat verlede jaar die beste verkoop het, was ook ’n Afrikaanse produk: Huisgenoot Skouspel 10.
Bobby van Jaarsveld se Net vir Jou is bekroon as beste Afrikaanse popalbum, terwyl Chris Chameleon se Kyk Hoe Lyk Ons Nou die Sama vir beste Afrikaanse volwasse kontemporêre album gekry het.
Die Klipwerf Boerorkes se Hantam Carnival het die prys gekry as beste Afrikaanse tradisionele musiek, en Die Heuwels Fantasties se selfgetitelde album is bekroon as beste alternatiewe Afrikaanse album.
Kurt Darren moes vir ’n verandering die knie buig voor Die Campbells, wie se Mamma Maria hom die loef afgesteek het as beste sokkie-dansalbum.
Juanita du Plessis se DVD, 10 Jaar Platinum Treffers Live, is aangewys as die beste Afrikaanse DVD.
Jan Blohm se 7 Jaar, wat verlede jaar ook met ’n Vonk-toekenning weggeloop het, het die Sama vir beste Afrikaanse rockalbum gekry, en Ray Dylan se Goeie Ou Country was die beste Afrikaanse country-album.
Die Soweto Gospel Choir was vanjaar die eerste ontvangers van die Sama in ’n nuwe kategorie vir beste internasionale prestasie. Die koor het ook tydens die toekenningsaand opgetree saam met Die Heuwels Fantasties.
Carike Keuzenkamp is saam met Jabu Khanyile vir hul lewenslange bydrae tot musiek vereer.
Die prys vir beste populêre klassieke album is gewen deur die violis Daniel Rowland en die Universiteit Stellenbosch Camerata vir die album Vivaldi/Piazzolla Seasons, opgeneem deur die platemaatskappy TwoPianists van Stellenbosch.
- Die Burger