Salma Hayek en Will Smith in Kaap
2011-12-28 09:39
Kaapstad – Krap jy nog kop oor waar, hoe en saam met wie om die nuwe jaar binne te gaan?
Die Burger het ’n paar oproepe gemaak om vas te stel waar die beste en grootste partytjieplekke gaan wees om die kurk Saterdag om middernag te trek.
En wie weet, as jy gelukkig is, kan jy selfs skouers skuur met die Hollywood-akteurs Salma Hayek en Will Smith, wat tans in Kaapstad vakansie hou.Maar dan moet jy dit stil hou...
Wat beloof om een van die grootste partytjies in Afrika te wees, is Ministry of Sound wat by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied word.
Volgens die organiseerder, Mark Abrahams, word meer as 8000 partytjiegangers verwag.
Van die DJ’s sluit internasionale platejoggies soos Chicane, Skazi, Ray Foxx, Kissy Sellout en Abonination in. Plaaslike platejoggies wat hul ding gaan doen, sluit in: Haezar, Double Adapter, El Gordo en Riot Squad. Kaartjies kos van R280 en kan by Computicket gekoop word.
Dan word die jaarlikse gratis vuurwerkvertonings weer in die V&A Waterfront se amfiteater aangebied. Dié vertoning is gewild onder gesinne.
Plaaslike kunstenaars soos Soi Soi Gqeza en Saber sal vir vermaak sorg.
As jy na die 1920’s terug hunker, is die Grand Daddy Hotel in Langstraat net die regte plek om te wees.
Dié partytjie, teen R650 per kop, beloof om ’n stylvolle affêre te wees, met ’n orkes op die dak, talle outentieke voorwerpe, burlesk-dansers en skemerkelkies. Kaartjies kan aanlyn gekoop word.
Die radiostasie 5FM bied ’n partytjie by die Breakwater Lodge op die dak by die V&A Waterfront aan. Kaartjies kos van R330 en kan aanlyn op 5FM se webtuiste gekoop word.
En waar gaan die rykes en bekendes uithang?
Volgens Newton Cross van die Suid-Afrikaanse Butler Akademie, verkies die meeste van hul kliënte om die nuwe jaar privaat in hul huis te begroet.
“Die kliënte nooi gewoonlik vriende na hul huis toe. Daar is baie streng sekerheid en alles wat daar gebeur, is vertroulik.”
En ja, Hayek en Smith kuier wél hier, het hy bevestig.
“Dié seisoen was een van die beste somers nóg, wat dit ’n baie besige tyd vir ons by die akademie maak,” het hy bygevoeg.
Vir leefstylbestuurders, oftewel butlers, is dit veral besig omdat die kliënte net die beste wil hê en bereid is om daarvoor te betaal.
“Vir ’n skof van tien uur betaal hulle maklik enigiets tussen R2500 en R4000. Die kliënte betaal en verwag net die beste van ons.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger