SAUK se verlies kykNET se wins
2010-01-30 08:03
Sanri van Wyk
Feitlik die hele 50/50-span werk nou vir kykNET.
Johann Botha, wat die uitvoerende vervaardiger van dié gewilde omgewingsprogram was, sê hy gaan nie meer programme vir die SAUK vervaardig nie weens vereistes wat die openbare uitsaaier vir ’n nuwe reeks 50/50-programme neergelê het. Dit het hom verhinder om sy werk te doen.
“Ons is ’n baie lekker span. Toe die ander hoor ek gaan, toe loop hulle saam met my.”
Die program is ’n paar maande lank nie uitgesaai nie nadat die SAUK verlede jaar die hernuwing van hul kontrak met ses maande uitgestel het.
Die produksiespan is destyds deur die SAUK ingelig dit sal weer rondom April uitgesaai word. “Dit het beteken die hele span was sewe maande sonder werk. Dit was klaar moeilik.”
Botha sê toe die SAUK hom die “lys van vereistes” vir die nuwe reeks 50/50-programme gee, het hy besluit om te loop.
“Die voorskrifte wat hulle gemaak het, maak dit vir my moeilik om my werk as omgewingsverslaggewer te doen.”
Botha, die hele 50/50-redaksie en onder andere die spesialisaanbieder prof. Erik Holm werk nou aan die kykNET-program Projek Aardwolf.
“Ons ry met ’n ou 1984-Land Cruiser rond en probeer die aarde red. Dit is ’n mengsel van Top Gear, 50/50 en Going Nowhere Slowly.”
Haddad Viljoen, publisiteitsbestuurder van kykNET en MK, sê Botha het ’n voorlegging oor die program aan kykNET gedoen en die kanaal het dit aanvaar. “Ons is baie bly om Johann en sy span by ons te hê.”
Viljoen sê hoewel dié program ook ’n omgewingsprogram is, is dit ’n “hele nuwe konsep” en nie dieselfde as 50/50 nie.
Die SAUK het gesê hy kan eers môre kommentaar lewer.
Projek Aardwolf begin Sondag 4 April om 20:30 op kykNET.
- Beeld