SAUK en e.tv sê nee vir ‘Idols’
2011-01-22 09:57
Beeld
M-Net het Idols as deel van ’n samewerkingsooreenkoms in 2009 gratis aan die SAUK én e.tv aangebied, maar albei het dit van die hand gewys.
As die aanbod aanvaar is, sou alle Suid-Afrikaners verlede jaar saam na dié reeks kon kyk.
Theo Erasmus, kanaaldirekteur van M-Net, het aan Beeld gesê die stap was deel van ’n poging om die reeks toegankliker vir alle Suid-Afrikaners te maak.
“Ons sal Idols nooit weggee aan ’n ander kanaal nie. Ons het deur die jare met dié reeks ’n baie sterk handelsmerk geskep.
Maar ons het gedink: Kom ons gooi die net wyer en maak dit ’n multikanaal-reeks sodat meer mense dit te siene kan kry,” het Erasmus gesê.
M-Net het die SAUK eerste genader met die idee om ’n samewerkingsooreenkoms met SABC1 aan te gaan.
Daarvolgens sou Idols op ’n Sondagaand op M-Net uitgesaai word met ’n herhaling van dié episode die Maandag op SABC1.
Die idee was dat dié herhaling betyds uitgesaai sou word sodat kykers kon stem voordat die stembusse op ’n Maandag 22:00 sou sluit.
“Die SAUK was uiters professioneel en bedagsaam. Sowat ’n week later het ek ’n e-pos gekry waarin ek meegedeel is die samewerkingsvoorstel is afgekeur. Daar is nie redes verskaf nie en ek het nie gevra nie.”
Die volgende stap was om dieselfde voorstel aan e.tv te doen, maar ook dié uitsaaier het laat weet dat hulle nie belangstel nie.
Hulle het ook nie redes gegee nie.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het aan Beeld gesê kykers moet verstaan dit gaan oor meer as om bloot so ’n aanbod te maak en dat die SAUK dit dan sonder meer aanvaar.
“Daar is baie faktore betrokke by so ’n besluit. Ek kan nie in die besonderhede van die redes daarvoor ingaan nie, want hierdie is ’n onderneming en ons kan nie ons sakebesluite oopstel vir insae deur die opposisie nie.
“Dit sal hulle insig gee in die manier waarop ons werk en toekomstige onderhandelinge deur die SAUK vir programme wat ons wil aanskaf, bemoeilik,” het Kganyago gesê.
Vasili Vass, woordvoerder van e.tv, het gesê dié uitsaaier het geen kommentaar nie.
Erasmus het gesê die kanaal oorweeg dit nie om verder samewerkingsooreenkomste aan te gaan nie.
- Beeld