SA-tenoor in Aida-rolprent
2009-11-26 08:53
Wayne Muller
Kaapstad - Die Suid-Afrikaanse tenoor Johan Botha is die ster in die operafliek van Aida, wat môre in die Cinema Nouveau-teaters begin draai.
Botha word gereken as ’n supertenoor – een wat al die meeste van die groot tenoorrolle in gesogte operahuise gesing het. Hy is een van die min tenore op die internasionale kringloop wat vandag gereken word as ’n groot Otello, in die gelyknamige opera van Verdi.
Met Verdi se Aida het hy natuurlik ook al groot sukses gehad en sing reeds lank die rol van die jong leërkaptein Radames. Verlede jaar het Botha juis dié rol in een opvoering van Aida in die Kunstekaap-operahuis hier gesing en is hy geloof vir sy optrede.
Oor die Metropolitan Opera in New York se produksie, wat nou hier op die groot skerm gewys word, het resensente wisselende reaksie gehad. Botha ís groot van liggaamsbou, en soos Pavarotti ook dikwels gekritiseer is, was die meeste negatiewe opmerkings oor sy toneelspel, want in werklikheid staan hy meestal net stil en sing.
Aida is een van die gewildste operas en sy groot stel – dikwels selfs met Egiptiese piramides en lewende diere – trek die gehoor in. Die liefdesverhaal van die Egiptiese Radames en sy geliefde Ethiopiese prinses Aida gryp aan.
Die Met se produksie word beskryf as van ’n epiese skaal waarin elke verhooghyser op die groot verhoog ingespan is.
Saam met Botha op die verhoog is die Litause sopraan Violetta Urmana, ’n sangeres wat bekend is vir haar interpretasie van Verdi se heldinne.
In die rol van die Egiptiese prinses Amneris, Aida se teenstander vir die liefde van Radames, is die Amerikaanse dramatiese mezzosopraan Dolora Zajick te hoor.
Amneris is ’n rol wat dié mezzo ook al verskeie kere in die Met en regoor die wêreld gesing het.
Daniele Gatti dirigeer die Met se orkes, maar daar was klagtes oor sy tempi in hierdie produksie
- Die Burger