SA tennisster en haar afrigter gaan trou
2012-02-07 08:05
Bloemfontein – Dit is nou amptelik: Chani Scheepers, Suid-Afrika se beste vroulike tennisspeler en oud-Vrystater, is verloof.
Scheepers, wat 44ste op die ATP-ranglys is, het Maandag uit Parys, Frankryk, bekend gemaak dat sy en haar afrigter, Roger Anderson, gaan trou. Hy is ook ’n Suid-Afrikaner van geboorte.
Sy en Anderson het net voor die Australiese Ope na Harrismith in die Oos-Vrystaat gereis waar hy haar ouers, Piet en Nicci Scheepers, om haar hand gevra het.
Volksblad het onlangs berig die tennispaartjie het trouplanne. Scheepers het dit nou bevestig.
“Ek is bly om my verlowing met my vriend van baie jare én afrigter, Roger Anderson, aan te kondig. Ons het onlangs met die Australiese Ope verloof geraak en beplan om teen die einde van 2012 in Suid-Afrika te trou.
“Ek is opgewonde om dié verbintenis met Roger aan te gaan, wat my balans in my lewe gegee het,” het sy in die verklaring gesê.
Anderson het ’n vriend in die juweliersbedryf gevra om ’n verloofring vir die tennisster te maak. Dit bestaan uit ’n enkele groot diamant wat deur ’n paar klein diamante omring word.
Hy het die ring in Australië aan haar vinger gesteek.
Die paartjie is in Parys waar sy haar vir die GDF Suez Ope voorberei.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad