SA se twintigtop-verkopers bekend
2011-12-28 10:03
Bloemfontein – Die sangeres Karlien van Jaarsveld is die top-verkoper van Afrikaanse CD’s in 2011 met haar debuut-CD, Jakkals trou met wolf se vrou.
Sy het daardeur nie net stof in die oë van groot name soos Juanita du Plessis en Steve Hofmeyr geskop nie, maar ook verskeie bekende buitelandse kunstenaars die loef afgesteek.
Die amptelike Top 20-indeks vir 2011 van verkoopsyfers van alle CD’s – plaaslike en buitelandse kunstenaars – is pas bekend gemaak.
Die Top 20 word weekliks bereken net op amptelike verkoopsyfers van CD’s wat deur handelaars bevestig word.
Hoe langer ’n CD dus op die weeklikse Top 20 verskyn, hoe meer van dié CD is verkoop.
Van Jaarsveld se CD was 24 weke op die Top 20, wat haar in die derde posisie algeheel en die wenposisie stel wat Afrikaanse kunstenaars betref.
Nog goeie nuus vir Suid-Afrika is dat die plaaslike groep Liquideep se CD, Fabrics of the heart, algeheel in die tweede plek is.
Dit het dus die beste gevaar van alle CD’s in alle tale in Suid-Afrika.
“Ek kan dit nie glo nie. Ek het onlangs verjaar en dit is die wonderlikste verjaardag- en Kersgeskenk ooit.
Ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Ek is stomgeslaan,” het Van Jaarsveld, suster van die sanger Bobby van Jaarsveld, gesê.
Me. Thersia Francis, hoof van die diskoteek by die SAUK, sê wat Van Jaarsveld se prestasie uniek maak, is dat sy haar top-posisie in Afrikaans behaal het met haar heel eerste CD.
“Dit is merkwaardig. So iets het nog nooit gebeur nie.”
Die eerste plek op die algehele topverkoperlys vir 2011 word beklee deur die Britse sangeres Adele met haar CD, 21.
Miljoene van die CD is wêreldwyd verkoop, sê Francis.
Onder die Afrikaanse sangers was Romanz en Nianell se CD, Duisend drome, in die sewende plek, Du Plessis se Wees lig in die agtste plek en Heuwels Fantasties met Wilder as die Wildtuin in die 18de plek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad