SA se CH2 gee tree na Grammy
2012-01-30 08:00
Johannesburg – Die kitaarduo CH2 is die eerste hekkie oor in die wedloop na ’n Grammy-eerbewys.
Corneille Hutten-Burger, wat saam met Leon Gropp die snare in CH2 tokkel, sê hulle het pas verneem hulle het die kriteria geslaag om hulle vir dié Amerikaanse musiekprys in te skryf.
Hutten-Burger sê die proses is allermins eenvoudig.
“’n Mens kry ’n klein boekie van die Grammy-komitee met al die kriteria. Een daarvan is dat jy al ’n minimum van ses CD’s internasionaal uitgereik het. Met ons laaste CD, Ping, kon ons nou aan dié vereiste voldoen.”
Dit is ook dié CD wat nou onderweg is na Amerika waar Grammy-beoordelaars gaan besluit of dit na die volgende ronde sal deurdring. Die album sal dan hopelik in die kategorieë wêreldmusiek en Jazz-Latyns meeding.
Die twee kitaarspelers was ook onder die uitsoekgaste wat na Beverly Hills in die hartjie van Hollywood genooi is om een van die vooraf-konserte van die Grammys by te woon. Sharon Osborne en die saxofoonspeler Dave Koz sal hier as seremoniemeesters optree.
CH2 het verlede jaar ’n paar sulke invloedryke Amerikaanse vriende gemaak toe hulle in September aan die Six String Theory-kitaarkompetisie deelgeneem het.
Dit is geïnspireer deur die legendariese Amerikaanse en Grammy-bekroonde kitaarspeler Lee Ritenour, wie se album Six String Theory gelei het tot dié kompetisie.
CH2 se kitaarspel het daar baie aandag getrek en hulle is reeds genooi om vanjaar terug te keer – dié keer om ook ’n vertoning te lewer op die konsert tydens die kompetisie.
Plaaslik is CH2 in Maart op die Woordfees op Stellenbosch in die nuwe produksie Ping! te sien.
Hulle pak dié “kitaar-kabaret” aan saam met Lizz Meiring, wat dit as “komiese kleinkuns-kabaret in die styl van Herman van Veen” beskryf .
Sy sê gehoordeelname vorm ’n belangrike deel van die produksie “vol humor, ongewone musiek en woordsketse”.
Volgens Meiring is die plan om dit daarna landwyd te laat toer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld