SA regisseur maak opslae
2009-08-09 15:09
Los Angeles - Hollywood is aan’t gons oor die Suid-Afrikaanse regisseur Neill Blomkamp se debuutfilm District 9, ‘n wetenskapfiksie-rolprent oor ruimtewesens wat in ‘n Johannesburgse township aangehou word.
Die fliek, wat handel oor die stryd van ‘n insekagtige ras ruimtewesens wat op die aarde ‘n tuiste probeer maak tussen mense, het resensente beïndruk in die aanloop tot dié fliek se Noord-Amerikaanse vrystelling op 14 Augustus.
Blomkamp se film, vervaardig deur die Oscar-bekroonde regisseur van Lord of the Rings, Peter Jackson, het sy ontstaan gehad toe planne skeefgeloop het om die treffer-videospeletjie Halo vir die silwerdoek aan te pas.
Die film speel af in ‘n futuristiese heelal, maar die storie is gewortel in Suid-Afrika se gewelddadige apartheidsgeskiedenis en sosiale onrus teenoor immigrante.
Blomkamp, 29, wat tans in Vancouver woonagtig is, sê hy was nie daarop uit om ‘n politieke film te maak nie, ten spyte van die simboliek in District 9.
"Ek het geweet ek wil nie ‘n film maak wat te polities van aard is en sodoende die gehoor afsit nie," het Blomkamp aan verslaggewers by ‘n mediakonferensie in Los Angeles gesê.
Blomkamp het Jackson in 2005 beïndruk met sy film Alive in Joburg, wat gebaseer was op die dieselfde konsep as District 9.
- AFP