SA mense sê Sashi is sexyste vrou
2011-06-15 07:07
Kaapstad – “Eers was ek in skok. Later, toe dit ingesink het, was ek oorstelp van vreugde. Dit was ’n wonderlike gevoel.”
Só het Sashi Naidoo (30), bekende Suid-Afrikaanse model, gereageer toe sy gehoor het sy is deur Suid-Afrikaners as FHM se Sexyste Vrou ter Wêreld vir 2011 aangewys.
Naidoo, wat in Port Elizabeth grootgeword het, was by die Monte Carlo-grand prix in Monaco toe FHM se redakteur, Hagen Engler, haar per SMS oor die goeie nuus laat weet het.
“Ek het heel eerste my agent, Marion Hope, laat weet en direk daarna my man, Marc Sandler.”
Suid-Afrikaanse FHM-lesers kon vir hul gunstelingmodel stem en meer as 1,5 miljoen stemme is vanjaar uitgebring.
“Ek voel baie geëerd om as sexyste vrou deur Suid-Afrikaners aangewys te word,” het Naidoo gesê. “Dit is ongelooflik. Elke keer as iemand my gelukwens, glimlag ek van oor tot oor.
“Ek glo beslis dat dié titel deure vir ’n mens oopmaak. Ek is baie opgewonde oor die toekoms.”
Naidoo het in 2000 as student modelwerk begin doen. Sy het chiropraktyk aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) gestudeer, maar het besluit om eerder ’n model te word as ’n chiropraktisyn.
“Ek het in ’n stadium vyf werke gehad. Ek moes kies en is baie bly ek het besluit om ’n modelagentskap te stig.”
Naidoo se agentskap, Alushi Model Management, is in 2008 gestig en verteenwoordig meer as 400 modelle in Gauteng.
“Ofskoon ek baie geëerd voel oor my titel, is ek ontsettend bly dat 12 van die modelle wat deur my modelagentskap verteenwoordig word, op die Top100-lys verskyn. Ek is baie trots op hulle.”
Naidoo en ander modelle op FHM se Top100-lys vir sexyste vroue is te sien in die Julie-uitgawe, wat vandag op die rakke is.
Engler het gesê Naidoo is ’n rolmodel vir jong Suid-Afrikaanse vroue. “Sashi besit haar eie agentskap en is ambisieus, super- intelligent, beeldskoon, lewendig en snaaks. Sy is waarlik sexy. Sy verdien die titel.”
Naidoo was verlede jaar die vierde sexy-ste vrou op FHM se Top100-lys.
Die sexyste vrou ter wêreld, volgens FHM-lesers oor die wêreld heen, is die aktrise en Victoria’s Secret-model Rose Huntington-Whiteley, wat Megan Fox in die rolprent Transformers vervang het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger