SA kuns op wêreldwye kuberskou
2012-01-30 09:00
Net een Suid-Afrikaanse kunsgalery neem deel aan die tweede aanlyn-VIP-kunsskou van internasionale kontemporêre kuns wat van 3 tot 8Februarie gehou word.
Net die Goodman-galery in Johannesburg is onder die meer as 100 toonaangewende galerye van oor die wêreld wat hul kuns op VIP (viewing in private) 2.0 op die webwerf www.vipartfair.com vertoon.
Goodman se uitstalling sluit die werk in van bekende kunstenaars soos Willem Boshoff, Kudzanai Chiurai, Kendell Geers, David Goldblatt, William Kentridge, Moshekwa Langa, Mikhael Subotzky en Patrick Waterhouse, Clive van den Berg en Minnette Vári.
Die eerste VIP-skou is verlede jaar aangebied met die doel om kuns buite ’n tradisionele uitstalruimte te bemark.
Die skou is die geesteskind van James en Jane Cohan, eienaars van die James Cohan-galery in New York, en Jonas en Alessandra Almgren, Kaliforniese entrepreneurs.
Hul oogmerk is om van meet af aan die jongste tegnologie in te span sodat besoekers tuis na die werk op die webwerf kan kyk en terselfdertyd met die kunstenaars in gesprek kan tree.
Twee internasionale beleggers en versamelaars, Selmo Nissenbaum van Brasilië en Philip Keir van Australië, het onlangs aangekondig hulle het sowat R8 miljoen in VIP belê.
Benewens VIP 2.0 beplan die organiseerders later vanjaar nog drie aanlyn-kunsskoue: VIP Paper in April, VIP Photo in Julie en VIP Vernissage in September.
Volgens Lisa Kennedy, VIP se uitvoerende hoof, kan die kunsskou danksy dié belegging die skou met nuwer tegnologie en bronne verbeter “om galerye en kliënte oor die wêreld heen bymekaar te bring en nuwe belangstelling in kontemporêre kuns te kweek ”.
VIP 1.0 het werk ingesluit van meer as 2200 kunstenaars van 138 galerye.
Meer as 41000 gebruikers het dié kuber-kunsskou ondanks heelwat tegniese probleme besoek.
In ’n stadium het soveel mense die webwerf besoek dat gevrees is die stelsel kan ineenstort.
Die organiseerders het bevestig hulle het ’n “robuuste” stelsel vir VIP 2.0 gereed wat baie besoekers kan hanteer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad