SA kry 24-uur porno-kanaal
2011-12-05 10:17
Kaapstad – 'n Nuwe 24-uur-sekskanaal sal vanaf Januarie 2012 op satelliet-televisie beskikbaar wees en Suid-Afrikaanse owerhede kan niks doen om dit te keer nie.
Die kanaal, wat pornografies van aard is en gemik is op heteroseksuele kykers, sal op die Astra 4A-satelliet, dieselfde satelliet wat deur TopTV gebruik word, uitgesaai word.
John Solomon van African Satellite Installations (ASI) het gesê die maatskappy sal spesiale dekodeerders en slimkaarte teen R99 per maand aan kykers verhuur wat toegang tot die kanaal wil verkry.
Die dekodeerders kan slegs gehuur word en bly die eiendom van die verskaffer.
ASI het reeds 5 000 dekodeerders bestel.
Die volwasse vermaakkanaal, ook bekend as PSat, wat sy oorsprong in Frankryk het, word van buite Suid-Afrika se jurisdiksie uitgesaai, het Solomon gesê.
Dit laat die Suid-Afrikaanse owerhede met geen sê oor die aangeleentheid nie.
"PSat is heeltemal onafhanklik van ander satelliet-kanale en jy sal 'n spesiale dekodeerder, slimkaart en satellietskottel benodig om na die kanaal te kyk," het Solomon gesê.
"Al wat jy moet doen is om jou TopTV-dekodeerder met die PSat-dekodeerder te vervang."
Besoek ASI se webwerf vir meer inligting.
– Volg nuus24 op Twitter.
- Rapport