SA kortprent skitter in Edinburg
2009-11-13 09:18
Johan Myburg
’n Ruk gelede was die Johannesburgse kunstenaar Paul Emmanuel opgewonde toe sy kortprent 3SAI: A Rite of Passage as deel van die voortgaande projek Transitions gekies is om op die Africa-in-Motion-fees van kortprente in Edinburg, Skotland, vertoon te word.
Nou is Emmanuel ekstaties nadat hy gehoor het dié prent het skoonskip gemaak op die fees.
Die prent is eenparig as die wenner aangewys.
Die meditatiewe prent, wat handel oor die verpligte haarsny vir alle rekrute op die 3SAI-weermagbasis, is uit 60 inskrywings uit 22 Afrika-lande gekies vir die kortlys van sewe.
Die prent is ná die aankondiging gereelder op dié internasionale rolprentfees in Edinburg vertoon.
Die beoordelaars was die gerekende Algerynse rolprentmaker Amor Hakkar; die rolprentmaker en skrywer Zina Saro-Wiwa; die direkteur van die Skotse dokumentêre instituut, Noe Mendelle; en die rolprentresensent, skrywer en vervaardiger Mark Cousins.
Emmanuel het sowat R12 500 met die wenfliek verdien.
“Ek was oorstelp toe die prent gekies is op só ’n roemryke fees.
“Om te wen, is so ’n wonderlike bekragtiging van my werk,” het Emmanuel gesê.
“Dit is wonderlik dat ’n eksperimentele prent ’n lewe kan hê buite ’n galery of kunsmuseum.
“Ek hoop dat dit ander kunstenaars kan aanspoor om hul drome na te jaag.”
-Beeld