SA gospelkoor vir Grammy benoem
2010-12-03 06:47
Los Angeles. – Die Soweto Gospel Choir van Suid-Afrika is benoem vir ’n Grammy in die kategorie vir die beste tradisionele wêreldmusiek-album.
Dit is die vierde benoeming in vyf jaar vir die groep, wat reeds met twee Grammy’s in die vertoonkas spog.
Die ander benoemings in die kategorie is die Gyuto Monks van Tibet, Bassekou Kouyate en Ngonia Ba, Ali Farka Touré & Toumani Diabaté en Yayo.
Die rapper Eminem het tien Grammy-benoemings gekry en só die seël op ’n goeie jaar geplaas, terwyl die popsensasie Lady Gaga en die rapper Jay-Z ook goed gevaar het met ses benoemings elk.
Die Grammys, wat prestasie in die musiekwêreld vereer, word op 13 Februarie in Los Angeles oorhandig.
Die Hawaise sanger Bruno Mars, wat twee keer opgetree in die uur lange konsert waar die Grammy-kortlys bekend gemaak is, het sewe benoemings – onder meer vir die beste popsanger – ingeryg.
As beste nuwe kunstenaars is die Kanadese tienerster Justin Bieber, die Britse groep Florence and the Machine, die country-groep Mumford and Sons asook Drake en Esperanza Spalding benoem.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger