SA aktrise (15) haal TIME se top-10
2012-01-10 11:15
Kaapstad – Khomotso Manyaka (15) is op die tydskrif TIME se top-10-lys vir beste akteur/aktrise vir haar rol in die plaaslike fliek Life, Above All.
Die fliek is gebaseer op die boek Chanda's Secrets deur Allan Stratton en handel oor 'n jong meisie se stryd met MIV/vigs in haar gesin en gemeenskap. Khomotso was 13 toe regisseur Oliver Schmitz haar vir die rol van Chanda gekies het.
Life, Above All is reeds op 2012 se Oscar-kortlys vir die beste internasionale film. Dié film het verlede jaar by die Cannes-filmfees met die François Chalais-prys weggestap en Khomotso het ook die prys vir beste aktrise by verlede jaar se Durbanse Filmfees gewen.
"Ek is baie trots op myself – 2011 was 'n ongelooflike jaar," het sy gesê.
Khomotso is vanjaar in gr. 10 aan die National School of the Arts, nadat sy en haar mede-aktrise Keaobaka Makanyane elkeen 'n beurs ontvang het.
Haar fokus bly egter op haar skoolwerk, en sy werk nie tans aan nog 'n fliek nie.
– Lees meer by Sarie.com
– Volg Nuus24 op Twitter