Ryk oes dié jaar in talle skryf-genres
2009-12-23 09:59
Willem de Vries
Kaapstad - ’n Ingewikkelde konsertina van takserings – lofuitinge, versigtige bedenkings, fronse en vreugdes – is waarmee vanjaar se republiek der letteren deur lesers, resensente en kommentators begroet is.
Die Franse bevestig vanjaar Karel Schoeman se grootheid met ’n prys vir Cette Vie, die Franse vertaling van Hierdie Lewe. Maar oor Titaan het John Kannemeyer gesê dit is “ ’n ongemaklike hibried: dit is nie feitelike geskiedenis nie en ook nie ’n roman nie; dit is ’n konglomeraat”.
Onlangse SA geskiedenis en die veranderde sakewêreld van ná 1994 is betrek in Geldwolf van Carel van der Merwe, Jaco Kirsten se Om Na ’n Wit Plafon te Staar en Pieter Haasbroek se Die Ander Vennoot. Van ’n wêreld aan die agterkant van politieke munt en mag vertel die filmiese Die Evangelis van Kaggelsberg deur die steeds ondergewaardeerde Worcesterse skrywer Abraham Phillips.
Troos vir die Gebrokenes deur die nuwelingskrywer Bettina Wyngaard het gesjarmeer met die verhaal se “(on)rustige, lokale realisme” (Riana Scheepers).
Armoede en uitbuiting kom ook op skreiende wyse aan bod in die skrywer van Die Tsotsi-evangelie, Frans van Rensburg, se roman Lammervanger.
Eben Venter betrek ook armoede en seks teen vergoeding in Santa Gamka. Louise Viljoen meen dit is sy oeuvre waardig. Gerda Taljaard is vir ’n Engel in die Hoenderhok wyd geloof. Uit die baie boeke waarin vanjaar met omstrede temas soos bloedskande en kindermolestering omgegaan is, het Annelie Botes se Thula-Thula as blitsverkoper na vore getree. Die nuweling Odette Schoeman had Jeanne Goosen in trane met haar roman, Swartskaap.
Die Nobelpryswenner John Coetzee se roman Disgrace het met wisseling in aanprysing in Afrikaanse vertaling as In Oneer verskyn. John Miles se genuanseerde Voetstoots het wisselende resensies en begrip ontvang.
Belangwekkende memoires soos Elsa Joubert se tweede outobiografiewerk, die ook romanmatige Reisiger – Die Limietberge Oor, die gewilde ’n Vurk in die Pad van André P. Brink, asook Dot Serfontein se outobiografie, Vrypas, is in dieselfde jaar uitgereik as Strooidak en Toring van Izak de Villiers, wat vanjaar oorlede is. Die digter, buitestander en “bul van Porterville” Barend Toerien is ook vanjaar oorlede. Die skrywer-joernalis Chris Louw het selfmoord gepleeg.
Antjie Krog het ’n keur uit haar eie gedigte onder die prikkelende titel Digter Wordende saamgestel, en Viljoen se belangrike essays oor haar werk, Ons Ongehoorde Soort, is uitgereik. Keure uit voorheen gepubliseerde verhale is gepubliseer, waaronder Oulap se Blou deur Chris Barnard en Kortetjies en ’n Lange deur PG du Plessis. Dana Snyman se Op Die Toneel: Stories, Reise, Stemme is ook positief ontvang.
“(Abraham H.) de Vries het nog selde beter geskryf,” sê Leon Rousseau, as in sy nuwe bundel, Verbeel Jou Dis Somer. Ná tien jaar kom uit Riana Scheepers se pen ’n welkome bundel, Katvoet, en van nog ’n belangrike kortverhaalskrywer, Welma Odendaal, het Landskap met Diere verskyn. Wisselende sukses is behaal deur Hennie Aucamp se Die Huis van die Digter en Ander Liefdesverhale. Die spanningskortverhale deur Deon Meyer, Karoonag en Ander Verhale, en die debuutwerk van Karin Brynard, Plaasmoord, is albei “broeiend, boeiend, brijant”. Toast Coetzer het gedebuteer as romansier met die spannende Naweek, terwyl Jaco Fouché se roman, Ed van Inligtingstelsels, en sy kortverhale Skrywersblok en Ander Verhale lou aanprysing ontvang het.
Aan die digkunsfront sit Breyten Breytenbach in Afrikaans en Engels sy immer vernuwende werk voort met Oorblyfsel/Voice Over in Gesprek met Mahmoud Darwisj. Danie Marais se Al is die Maan ’n Misverstand het verskyn, asook Daniel Hugo se Die Panorama In My Truspieël, Joan Hambidge se Vuurwiel, Johann de Lange se Die Algebra Van Nood, Gilbert Gibson se oogensiklopedie en Cas Vos se Intieme Afwesige. Met dank en waardering, soos ook in Suid-Afrika en Nederland, Ena Jansen se keur van Elisabeth Eybers-gedigte met ’n opname waar Eybers die gedigte voorlees, Klinkklaar. Suzette Kotze-Myburgh en Scheepers se Nuwe Kinderverseboek is ’n welkome byvoeging tot die nuuskierige ogies en oortjies se poësieskat.
- Die Burger