Ryk Neethling wil nou van water na wyn duik
2010-09-22 09:05
Die Burger
Kaapstad - Hy word reeds gesien as een van die gode van die swemwêreld, maar binnekort kan Ryk Neethling ’n hedendaagse Bacchus word.
Neethling het die naweek as ’n kleinskaalse wynmaker gekwalifiseer nadat hy die Garagiste-wynmakerskursus aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het.
Die Olimpiese gouemedalje-wenner wat al wyn onder sy naam bemark het, wil nou sommer sy eie wyn maak.
En hy beplan nie om te talm met sy planne nie. Hy wil so gou as moontlik begin pars. “Ek het nog nie self gepars nie. Ek leer nog.”
Die swemheld hou glo van die komplekse dinge in die lewe.
“My gunsteling is ’n versnit van rooiwyn.
“Voorheen was dit net water en proteïenaanvullers. Nou kan ek darem my eie wyntjie geniet,” het hy gesê.
Hy is egter nie van plan om te diep in die bottel te kyk nie. “Ek hou nog steeds my figuur dop. Dis beter so vir die bankbalans,” het hy geskerts.
“Maar mense kan gerus ’n glasie rooiwyn per dag geniet, solank dit net met matigheid voor oë gedoen word.”
Op die driedaagse kursus is daar onder meer van verskeie kultivars geleer, wanneer om druiwe te pluk en hoe om te bottelleer, het dr. Wessel du Toit, senior dosent in wynkunde van die departement wingerd- en wynkunde, gesê.
- Die Burger