‘Rugby’ is oor meer as sport
2011-03-17 08:06
Ruimtes maak die regisseur Cobus Rossouw opgewonde.
Dit is die een ding wat hy deurlopend as regisseur in sy werk gebruik om die stories wat hy op die silwerdoek of klein skerm skep, verder toe te lig.
Soos nou weer in die fliek Getroud met rugby: Die onvertelde storie, ’n prent wat eintlik maar min oor rugby gaan en eerder oor die vriendskap tussen mans.
“Ek werk altyd met ’n teenaanligging van landskappe,” vertel Rossouw. “Ek begin dink dit is dalk ’n kenmerk van my werk.”
Een van die lekker dinge is om ruimtes te gebruik om te vertel wat woorde nié kan doen nie. Al sien almal nie raak hoe hy ’n ander storie met ruimtes vertel nie, weet hý intelligensie is verweef met die beelde op die skerm.
In Getroud met rugby het hy baie gespeel met die sogenaamde een-punt-perspektief. “Daar is elke keer ’n ‘tonnel’ waardeur ons beweeg. Dit word die sentrale, visuele metafoor van die rolprent,” verduidelik Rossouw.
Amper soos ’n geboorte, besef ’n mens wanneer jy die rolprent kyk. Die karakters beweeg deur ’n “tonnel” vanuit ’n donker plek in hul lewe na die lig.
Na nuwe lewe; ’n soort hergeboorte.
Vir Rossouw het die gebruik van ruimtes aanvanklik ontstaan weens die tekort aan geld in Suid-Afrikaanse produksies om visuele effekte te skep.
Maar mettertyd het dit veel meer as dit geword. Dit is ’n manier waarop dié bekroonde regisseur kommunikeer waar woorde tekort skiet. “Dis nie kritiek teen die Suid-Afrikaanse televisie-en-rolprentbedryf nie. Dis ’n werklikheid.
“Daar is nie genoeg geld nie en ons produksies is baie dialoog-gedrewe.
“Ons moes leer om goed te doen ondanks die beperkings wat geld meebring. Film is in elk geval by uitstek ’n visuele taal. Op dié manier vorm alles ’n samehangende geheel.”
Een van die dinge wat vir hom die opwindendste is, is om die teenstellings tussen ryk en arm te belig. In GMR is dit die vervalle huisie met ’n doringdraadheining en hek wat skeef aan die pale hang, teenoor die luukse woonhuise van die ryk rugbyspelers.
Die vervalle, verroeste ruimtes by die Rob van Vuuren-stadion teenoor Ellispark. Die onversorgde lang gras teenoor die lowergroen, gemanikuurde grasperke.
Vir Reghart (Izak Davel) het hy metafories ook na die ander kant van die treinspoor geneem. “Jy sién hoe hulle oor die treinspore stap; die wag op die stasie vir die trein; die trein wat nie kom nie. Dít is die onvertelde storie. Want Reghart se storie sou nooit vertel gewees het as sy pad nie met Fafa s’n gekruis het nie.”
En hoe lief is hy nie daarvoor om die underdog se verhaal uit te beeld nie.
Hillbrow, reken hy, is baie meer fassinerend as middelklas-voorstedelikheid. “Daar is baie meer inherente drama namate dié wêreld begin verval.”
Is hy tevrede met GMR?
Die een wenkbrou lig effens en ’n skewe glimlag breek deur. “Het jy nie gedink Izak is goed nie? Het hy jou nie verbaas nie?
“Ek was baie trots op hom; daar is baie talent in daardie lyf van hom. Dit vat dapperheid om jou van jou emosies te laat stroop. Enigiemand kan toneelspeel, maar daar is net ’n handjievol mense wat jou sal laat stop om na hul werk te kyk. Dit vat ’n dapper mens om ’n goeie akteur te wees.”
Maar dit gesê, ja, hy ís tevrede – in elk geval soveel soos wat ’n mens kán wees – met die eindproduk.
“Daar gaan altyd goed wees wat ’n mens wens jy beter kon doen. Maar daar kom ook ’n punt waar jy moet aanvaar dit is wat dit is.
“Ek is trots op wat ons gedoen het, ek is trots op wat die akteurs gedoen het en ek is trots op wat die tegniese span gedoen het.”
En nou gaan hy sy droom begin leef: Om flieks te maak. Goeie flieks.
“As Afrikaners en Suid-Afrikaners hoef ons nie terug te staan of skaam te voel teenoor die res van die wêreld nie.
“Daaroor voel ek baie sterk. Maak nie saak watse rolprent ons maak of in watter taal nie.”
- Die Burger