Rudi in trane oor sy 'liefling'
2011-02-21 08:18
Pretoria – "My liefling het my verlaat."
Met dié woorde het die sanger Rudi Claase Saterdagaand in Bothaville in die Vrystaat ’n vertoning voor sowat 400 mense begin sonder sy sangmaat, Corlea Botha.
Claase het losgetrek met “Drome”, een van die gewilde liedere van die Lieflinge (soos Botha en Claase genoem is), maar het skaars twee reëls gesing toe hy in trane uitbars.
Die sangeres Sonja Herholdt, wat ter elfder ure gevra is om in Botha se plek te sing, het op die verhoog gestap en haar arms om Claase gesit.
“ ’n Applous het losgebars soos ek nog nooit gehoor het nie,” het Claase se agent, Stephen Steward, Sondag gesê.
“Al daai mense was op hul voete.”
Skaars vier uur voor die vertoning het regter Bill Prinsloo in die hooggeregshof in Pretoria beslis dat Botha nie gedwing kan word om saam met Claase in Bothaville op te tree nie.
“Ek het absoluut van niks geweet tot so 14:00 nie,” het Herholdt Sondag vertel.
“Rudi het my gebel en gevra of ek die aand saam met hom sal optree.
“Ek het vinnig ’n balrok uitgehaal en in my kar gespring. Ek ken nie Lieflinge se liedjies nie.
“Ek moes dus tydens die rit van sowat twee uur na hul CD’s luister en die hele pad saamsing om die woorde te leer en my stem reg te kry.”
Nadat Herholdt Claase op die verhoog getroos het, het die twee saam liedjies van Lieflinge en van Herholdt gesing.
Aan die einde van die vertoning het Claase “As ek sing” gesing – ’n liedjie wat hy spesiaal vir Botha geskryf het.
Hy het weer in trane uitgebars.
“En weer was die hele gehoor op hul voete en handeklappend,” het Steward vertel.
Volgens hom en Herholdt was daar geen “woede” omdat Botha nie daar was nie.
“Die gehoor is van hul voete gevee,” het Herholdt bygevoeg.
Volgens Claase het hy steeds geen benul waarom Botha hom verwerp nie, “maar ek moet erken daar is mense in haar milieu waarmee ek nie oor die weg kom nie”.
Hy kan hom nie uitlaat oor hul bespreekte optredes nie “omdat ek nie weet wat Corlea volgende gaan doen nie”.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld