Roxette ‘wou wêreld nooit oorneem’
2011-05-10 07:01
Kaapstad - Die Sweedse poprockgroep Roxette se eerste konsert in Kaapstad Sondagaand was ’n reuse-sukses, en die groep beplan om weer so te maak – Dinsdagaand (vanaand) en Woensdagaand (môreaand).
Die duo tree in die Grand Arena by die GrandWest-casino op.
Per Gessle het Maandag op ’n nuuskonferensie hier gesê hy en sy sangmaat, Marie Fredriksson, word baie gul deur Suid-Afrikaanse gehore ontvang.
Hy het die gehore hier met Suid-Amerikaanse gehore vergelyk en gesê hoe verder noord hulle speel, hoe stiller word die gehore.
Roxette het 16 jaar gelede laas in Suid-Afrika opgetree, maar Gessle was intussen saam met sy gesin hier met vakansie. “Ons het die Groot Vyf almal op een dag gesien, en ek het vir Björn Borg hier raakgeloop.”
Hy het gesê hy en Fredriksson het nooit bedoel om die wêreld oor te neem nie. “Ons was baie verbaas toe ons eerste in Amerika, van alle plekke, sukses behaal het.”
Hy het in 1978 die eerste keer ’n groep, Gyllene Tider, gestig. “Ons was baie suksesvol in Swede en het besluit om ’n Engelse album op te neem. Dit was ’n vreeslike swak album en ons was baie verbaas toe dit later in Amerika onder die naam Roxette uitgereik is,” het Gessle vertel.
Fredriksson het nie die nuuskonferensie bygewoon nie. Sy het in 2005 in remissie in gegaan ná ’n drie jaar lange stryd teen kanker en moet steeds mooi na haarself kyk.
Roxette tree Dinsdagaand (vanaand) en Woensdagaand (môreaand) weer op, maar kaartjies vir albei vertonings is uitverkoop.
- Die Burger