Rook ook op silwerdoek al meer taboe
2010-08-20 17:59
New York - Rokers wat die fliekteater besoek, kan maar ophou moerig wees oor hulle nie binne mag rook nie - ook die akteurs se dampies word al meer beperk.
‘n Nuwe studie van gewilde flieks wat tussen 1991 en 2009 gedraai het, wys dat tabakgebruik op die silwerdoek in 2005 sy hoogste punt ooit bereik het en sedertdien skerp aan die afneem is.
Verlede jaar het meer as die helfte van die 145 top-flieks geen rokery bevat nie. Dit is ‘n rekord vir die afgelope twee dekades.
Vir flieks wat bedoel is vir kinders of tieners is die persentasie selfs hoër - in 61% van die flieks trek daar nie ‘n enkele rokie nie. Ongeveer 54% van flieks waarby ouertoesig vir kinders onder 13 aanbeveel is, het egter wél rooktonele bevat.
Die studieleier, Stan Glatz, oefen al jare lank druk op fliekateljees uit om rook in flieks wat vir kinders en tieners bedoel is, heeltemal uit te sny. Sy pogings blyk vrugte af te werp, aangesien ateljees deesdae ‘n beleid oor rook in flieks uitoefen en ook anti-rook boodskappe op DVD’s met rooktonele in plaas.
Die Rolprentvereniging van Amerika neem deesdae rook in ag wanneer ouderdomsbeperkings bepaal word. Die trefferfliek Avatar het byvoorbeeld ‘n ouderdomsbeperking van 13 met ouertoesig gehad. Een van die redes vir dié beperking was dat daar in die fliek gerook word.
- Sapa - AP