Romanz-sanger vas ná hy 189 km/h lughawe toe jaag
2012-06-30 14:45
Johannesburg – Adam Barnard, 'n sanger van die Afrikaanse groep Romanz, is op pad na 'n vertoning in hegtenis geneem nadat hy teen 189 km/h in sy Renault Megane gejaag het, het die Gautengse verkeerspolisie Saterdag gesê.
"'n Sanger van die bekende sanggroep Romanz is vandag op pad na 'n vertoning saam met sy groep in Worcester in die Kaap voorgekeer omdat hy gejaag het," het Busaphi Nxumalu, woordvoerder gesê.
Hy is 06:39 op die R21 naby die Olifantsfontein-afrit in 'n 120 km/h-sone betrap.
"Hy het beweer hy was laat vir sy vlug by die OR Tambo Internasionale Lughawe," het Nxumalu gesê.
Die sanger is na die Olifantsfontein-polisiekantoor geneem waar hy van roekelose en nalatige bestuur aangekla is.
Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat en sal vroeg volgende week in die Tembisa-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA