Roepman is een van gewildste SA flieks
2011-08-10 07:59
Kaapstad – Die rolprent Roepman is op drie na die gewildste Afrikaanse rolprent tot nog toe in Suid-Afrika.
Die prent, gegrond op Jan van Tonder se spoorwegroman, het pas klaar gedraai in teaters in Suid-Afrika. Altesaam 72100 kaartjies is oor die land heen verkoop.
Op die lys van gewildste Afrikaanse prente uitgereik deur Ster Kinekor pronk drie van Katinka Heyns se rolprente onder die eerste vyf. Heyns se prent Fiela se kind (1988) is steeds in die eerste posisie met ’n totale verdienste van R3,94 miljoen.
Daarna volg Darrell James Roodt se musiekprent Jakhalsdans (2010) in die tweede plek met ’n verdienste van R3,387 miljoen.
Heyns se prente Paljas (1998) met R2,483 miljoen en Klara Viljee (1992) met dieselfde verdienste kom in die derde plek. In die vierde plek staan Roepman met ’n totale verdienste van R2,483 miljoen.
Daarna volg Agter Elke Man (1990) met R1,765 miljoen, Getroud met rugby (2011) met R1,421 miljoen en Susanna Van Biljon (2010), die rockster Karin Zoid se silwerdoekdebuut, met ’n inkomste van R1,4 miljoen.
Voorts is Roepman die eerste Afrikaanse en Suid-Afrikaanse rolprent om vandeesmaand op hoë definisie Blu-Ray uitgereik te word. Dit sal van 22 Augustus in DVD-winkels in Suid-Afrika en Namibië beskikbaar wees en die publiek kan dit vir hul versameling in winkels aanskaf vanaf 9 September.
Die vervaardigers van Roepman, Sallas de Jager en sy pa Piet de Jager, werk reeds aan hul volgende prent, getiteld Verraaiers. Dit handel oor ’n gerespekteerde offisier in die Tweede Vryheidsoorlog (1902) wat moet besluit of hy gaan veg tot die bitter einde, of gaan terugkeer plaas toe om sy vrou en kinders teen die “Verskroeide aarde”-veldtog van die Britte te beskerm. Hulle hoop om in Februarie aanstaande jaar te begin verfilm.
Die regisseur Paul Eilers, wat ook Roepman geregisseer het, is aan boord, asook die akteur Deon Lotz in die hoofrol. Lotz is tans te sien in die rolprent Skoonheid.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad