Rockster kan nie wag vir die troumars
2011-10-21 07:08
Kaapstad – Alles is agtermekaar vir die groot makietie. En van makietie hou kan jy hulle niks vertel nie.
Wynand Myburgh (33), baskitaarspeler van die rockgroepe Fokofpolisiekar (FPK) en Van Coke Kartel (VCK), haak eersdaags af met sy vriendin van die afgelope vier jaar, Tarina da Silva (29).
Hulle ken mekaar al sewe jaar, het vier jaar uitgegaan en is ’n rapsie langer as ’n jaar verloof. Dié twee trou op 5 November in die Riebeekvallei-hotel op Riebeek-Wes. Myburgh en die ander lede van VCK het pas hul vierde album, Wie’s Bang, voltooi.
Da Silva se ma, Hannelie, het Donderdag uit Bredasdorp vertel al die reëlings is afgehandel. “Dit moet nou net kom en klaarkry,” het sy geskerts met verwysing na die afgelope jaar se afwagting.
Altesaam 50 gaste is vir dié intieme troue genooi. “Daar gaan nie regtig bekendes wees nie, maar al die manne van Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, asook die lede van Die Heuwels Fantasties, gaan daar wees.”
Francois van Coke, sanger van FPK en VCK, is Myburgh se strooijonker. Dié twee is al jare boesemvriende. Van Coke trou self in Februarie met sy jare lange vriendin, me. Lauren Wiid.
Volgens Da Silva is Myburgh se trouklere, wat ’n baadjie en strikdas insluit, in Argentinië gekoop en Tarina se rok en bykomstighede in Argentinië en Londen.
Oor die paartjie se senuwees het Da Silva gesê Wynand is te besig om senuagtig te wees. “Tarina is oukei. Daar is nie probleme nie.”
Tarina se ouma, Hortense Da Silva, vlieg spesiaal van Portugal om die troue by te woon.“Wynand is die eerste lid van Fokofpolisiekar wat verloof geraak het en is nou die eerste een wat gaan trou. Daarna het die res gevolg. Ek dink hulle het vir iemand gewag om die voortou te neem,” het Da Silva bygevoeg oor die troukoors wat dié rockers gepak het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger