Robert en Kristen geniet 'n aandjie uit
2012-10-16 15:03
Los Angeles – Robert Pattinson en Kristen Stewart is die afgelope naweek saam gesien toe hulle ‘n aandjie uit geniet het.
Die Twilight-paartjie, wat glo weer in 'n verhouding is nadat Robert vir Kristen vergewe het omdat sy hom met die regisseur Rupert Sanders verkul het, was Saterdag by die Chateau Marmont in Hollywood.
‘n Ooggetuie het aan UsMagazine.com gesê hy het die paartjie by die nagklub gesien, waar hulle deur die tuin gestap en by ‘n privaat ingang ingesluip het.
‘n Tweede getuie sê dat die paartjie baie gemaklik in jeans en T-hemde geklee was en dat hulle gereeld in mekaar se ore gefluister het.
“Hulle is bang vir ‘n teenreaksie, so hulle hou dinge maar redelik aan die stil kant,” het ‘n vriend van die paartjie gesê.
Robert se susters, Lizzy en Victoria Pattinson, is waarskynlik nie in hulle noppies met dié nuus nie. Die twee het glo voorheen gesê hulle sal hom doodmaak as hy haar terugvat.
“Lizzy en Victoria is vreeslik hartseer vir Robert, veral oor die verleentheid wat saam met die situasie gegaan het,” het ‘n bron verduidelik.
“Vir hulle is dit ‘n geval van sy het hom een keer verkul, so wat gaan haar keer om dit weer te doen? Hulle sal Kristen nie sommer vergewe nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter