Ricky Gervais dalk weer Globes-aanbieder
2011-02-02 13:07
Los Angeles - Meer as twee weke nadat Ricky Gervais beledigende grappe op internasionale TV oor Hollywood-sterre gemaak het, is hy glo gevra om weer as aanbieder vir die Golden Globes op te tree.
Groot omstredenheid het geheers nadat Gervais tydens vanjaar se Golden Globe-seremonie grappe gemaak het oor akteurs soos Charlie Sheen en Robert Downey Jnr.
Talle mense meen sy grappe het diep gesny en was baie onvanpas. Selfs die organiseerders van die Golden Globes het hul misnoeë uitgespreek en wyd en syd verkondig dat Gervais nie weer by die Globes welkom is nie.
Maar die Engelse komediant het Dinsdag aan Reuters gesê dat hy wel deur 'n hooggeplaaste by die NBC-televisienetwerk, wat die program uitsaai, gevra is om tog weer volgende jaar die program aan te bied.
The Hollywood Foreign Press Association, wat die program reël, het ontken dat hulle hom wil terughê.
Gervais hou egter vol dat die spesifieke hooggeplaaste amptenaar vir hom gevra het om nie die moontlikheid om weer die program aan te bied, uit te sluit nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters