Riaan Cruywagen vir oulaas op die nuus
2012-11-26 17:45
Kaapstad – Miljoene Suid-Afrikaners sal Maandagaand vasgenael wees voor die kassie vir die veteraan-nuusleser Riaan Cruywagen se laaste bulletin.
Cruywagen het vroeër vandeesmaand sy aftrede aangekondig en het gesê dit gaan "net 'n normale dag" wees.
Sy laaste nuusbulletin word Maandagaand – presies 37 jaar nadat hy by die SABC begin werk het – om 19:00 uitgesaai.
"Vanaand 7uur gather n paar v ons vriende voor die teevee om Riaan Cruywagen se laaste nuusuitsending te kyk. Mag ELKE Suid-Afrikaner & tjomma ook vanaand die afsluiting v n legende saam ons op die kassie beleef. Sien julle dus almal 7bells voor die tv. Riaan, ons watch jou, ou grote!" het Sorina die Flooze op haar Facebook-blad gesê.
Verskeie ander Suid-Afrikaners het ook op die sosiale netwerk Twitter hul mening gegee oor Cruywagen se aftrede en vir sommige is dit 'n emosionele dag.
"Vandag is Riaan Cruywagen die nuus," het die TV-aanbieder Lynette Francis getweet.
"Ek hoop almal het hul springmielies reg vir Riaan Cruywagen se laaste uitsending," het Mark Esterhuysen gesê.
Brandsrock het ook sy mening gegee oor Cruywagen se aftrede.
"Riaan Cruywagen groet vanaand vir oulaas om 7 uur op SABC2. Die einde van 'n era vol herinneringe. Jy's legend ! #RiaanCruywagen"
Tlharantlhophe het getweet: "As jy 'n Suid-Afrikaner is en vandag verjaar, het Riaan Cruywagen die nuus gelees sedert jy gebore is."
Vir sommige aanhangers is Cruywagen se aftrede ook 'n emosionele dag.
"Dink ek gan 'n traan stort as Riaan Cruywagen vanaand sê: ' vir oulaas,goeienag'...#stukkiekultuurdaarmeeheen," het die sanger-liedjieskrywer Neil Somers getweet.
Cruywagen het sy loopbaan in 1965 as 'n joernalis begin en deeltyds by die SABC in Kaapstad gewerk terwyl hy by die Universiteit van Stellenbosch studeer het.
Sy eerste nuusbulletin is op 26 November 1975 om 20:00 uitgesaai.
Met meer as 7 000 televisie-aanbiedinge in sy loopbaan, voel hy "nostalgies, maar nie emosioneel" oor sy aftrede nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24