Riaan Cruywagen groet ná byna vier dekades
2012-11-26 09:59
Kaapstad – Ná meer as vier dekades in die uitsaaiwese beplan die veteraan-Afrikaanse nuusaanbieder Riaan Cruywagen om sy eerste aand ná sy aftrede saam met sy gesin nuus te kyk, berig iol.
Cruywagen se laaste nuusbulletin word Maandagaand – presies 37 jaar nadat hy by die SABC begin werk het – om 19:00 uitgesaai.
"Ek is verheug dat ek van nou af saans, ná soveel jare, saam met my familie by die huis sal wees," het hy gesê.
Die 67-jarige Cruywagen het aan die Cape Argus gesê sy aftrede gaan "net 'n normale dag wees".
Jimi Matthews, waarnemende uitvoerende groephoof van nuus en aktualiteit by die SABC, het vroeër vandeesmaand Cruywagen se aftrede bevestig.
Cruywagen het vroeër vanjaar op 'n vraag oor sy aftrede gesê: "Ek oefen nou al 37 jaar lank om die nuus te lees en die dag wanneer ek dit perfek kry, gaan ek ophou”.
In dié onderhoud het hy ook gesê iets bly hom by van bykans elke nuusbulletin wat hy lees.
“As nuusleser is jy nie ’n masjien nie; jy is ook ’n mens van vlees en bloed. Dit is belangrik om te kan onderskei tussen emosie en deernis.”
Cruywagen het sy loopbaan in 1965 as 'n joernalis begin en deeltyds by die SABC in Kaapstad gewerk terwyl hy by die Universiteit van Stellenbosch studeer het.
Sy eerste nuusbulletin is op 26 November 1975 om 20:00 uitgesaai.
Met meer as 7 000 televisie-aanbiedinge in sy loopbaan, voel hy "nostalgies, maar nie emosioneel" oor sy aftrede nie.
"Ek gaan die adrenalien van regstreekse uitsendings, die wonderlike atmosfeer in die nuuskantoor en my kollegas mis," het Cruywagen gesê op die vraag oor waarna hy die meeste ná sy aftrede gaan verlang.
Kyk hier na 'n video oor Riaan Cruywagen se loopbaan.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter