Regter loof Chris Brown
2009-11-20 12:59
Los Angeles – Chris Brown, bekende R&B sanger, was deur ‘n regter in Los Angeles geloof vir die goeie vordering wat hy toon, ná sy vonnisoplegging vir die aanranding van sy gewese meisie, Rihanna.
Die 20-jarige Brown moet nou in Februarie terugkeer na die streekhof, vir nog ‘n verhoor voor regter Patricia Schnegg, wat die sanger in Augustus tot 180 dae gemeenskapsdiens gevonnis het.
Brown het reeds 100 ure van gemeenskapsdiens voltooi, en sewe sessies van berading vir huishoudelike geweld bygewoon, het sy prokureur Mark Geragos gesê.
Die omstrede voorval, wat Rihanna met snye en kneusplekke gelaat het, het haar forseer om haar vertoning tydens die Grammy-toekennings in Februarie te kanselleer.
Volgens beëdigde verklarings het Brown Rihanna se kop teen die venster van die motor gekap waarin die paartjie gery het. Hy het haar ook gebyt en geslaan.
- AFP