Regisseur vertel tere verhaal oor vigs
2010-08-03 07:39
Durban - Life, above All is ’n hartroerende verhaal wat afspeel in die dorpie Elandsdoorn waar ’n ma en dogter die tragiese gevolge van MIV/vigs moet hanteer. Ná sy première op die Cannes-filmfees vanjaar is dié Suid-Afrikaanse rolprent met ’n lang staande applous begroet.
Hoe het die proses verloop om Allan Stratton se roman Chandra’s Secret in ’n draaiboek te omskep, en dan nog boonop in Sepedi te vertaal?
Die oorspronklike boek is Suider-Afrikaans generies, maar vir my was dit belangrik om die storie weer spesifiek te maak. En baie dinge het toevallig gebeur.
Ons het bande met vigsklinieke, onder meer in Elandsdoorn, op die grens van Limpopo en Mpumalanga. Ons het na die gebied gereis en kinders – daar is heelwat vigswesies – gevind wie se verhale met die hoofkarakter s’n ooreenstem.
Dis ’n klein dorp met ’n gemeenskap wat nog heel intak is, want die rolprent handel juis oor só ’n gemeenskap met sy waardes en taboes.
En die onvermoë om moderne probleme, soos vigs, met tradisionele waardes aan te pak.
Dit is byna ’n perfekte Afrika-weergawe van white picket fences: Almal ken mekaar, gaan kerk toe, en tradisie speel ’n groot rol – positief, sowel as negatief.
Toe ons die hoofkarakter, Khomotso Manyaka (wat Sepedi praat), gevind het, was dit duidelik wat die taal van die rolprent sou wees.
Hoe het plaaslike mense die verfilming ervaar?
Dit was ’n uitdaging, maar fantasties om in so ’n heel ander omgewing te verfilm as waarin ek voorheen in Suid-Afrika gewerk het – ’n landelike gebied, met net een taal, wat byna suiwer gepraat word.
Verbasend genoeg was mense nie ongemaklik met die inhoud nie; baie plaaslike mense het aktief deelgeneem en steun verskaf. Om die uiteindelike produk te sien, het baie ontroer. Selfs sommige hoofakteurs het nie gedink dit sou so kompleks wees as wat dit is nie.
Dink jy die land het al ’n kopskuif rakende vigs gemaak?
Iets wat vir my baie belangrik is, is dat ek dit nie as vigsrolprent definieer nie. Vigs speel ’n baie belangrike rol, maar dis die verhaal van ’n ma en dogter se verhouding wat ly onder die gevolge daarvan en die vooroordele daaraan gekoppel.
Daar is reuse- maatskaplike kwessies. Ek besef daar is nie genoeg geld nie, maar baie van die 800?000 vigswesies kry geen aandag nie, want daar is geen volwassene om hulle te help om staatstoelae te kry nie. Die gevolge van enige regeringsbesluit wat geneem word, duur jare om te sien. Ek dink wel die kliniek waarmee ons gewerk het, kan as ’n model dien van hoe dinge op voetsoolvlak gedoen moet word.
Kon jy by jou oorspronklike visie vir die rolprent bly?
Ek kon, maar die vervaardigers moes werklik oortuig word omdat dit in ’n Afrikataal geskiet sou word, en geen internasionale sterre daarin sou verskyn nie. Ek is bly dat ek al my flieks hier op hierdie manier kon doen, met plaaslike akteurs en in die tale wat gepraat moet word. Dit was ook uiteindelik kommersieel haalbaar, want Sony Classics gaan dit nou internasionaal uitreik.
Jy werk in verskeie genres – van Duitse komedies en TV-rolprente tot Suid- Afrikaanse vollengterolprente soos Mapantsula en Hijack Stories. Hoe moeilik is dit?
Ek het nog nooit ’n probleem ervaar nie. Ek soek altyd die kern van die verhaal wat my emosioneel raak, wat iets te sê het oor die menslike aard of kondisie.
Komedie is gladnie makliker nie; in sommige opsigte is dit moeiliker as drama. Indien rolprente van enige belang in ons lewens is, is komedies net so belangrik vir mense se kreatiewe welstand.
Sien jy enige groei in die plaaslike rolprentbedryf?
Ek hoor hier is sowat 30 rolprente die afgelope jaar in Suid-Afrika vervaardig, wat verbasend goed is. Ek dink teenspoed is goed, soos die onlangse probleme met die SAUK. Mense besef nou hulle kan nie op die uitsaaier vir finansiering reken nie, dus maak hulle ’n plan.
Ek reken Duitse vervaardigers kan hier ’n les kom leer oor hoe baie jy met bittermin kan verrig. Dit raak egter internasionaal al hoe moeiliker vir onafhanklike rolprente, want daar is minder onafhanklike teaters en uitsaaiers. Jy kan dalk jou rolprent op filmfeeste vertoon, maar dit gaan nie verder as dit nie.
Die draaiboek was maklik genoeg, maar die finansiering was seker moeiliker weens die resessie?
Die meeste daarvan het van Duitse rolprentstigtings gekom, wat nogal ’n prestasie is gegewe dat geen Duitse akteurs hierin verskyn nie, en dis boonop in ’n land en taal wat ver van hulle is.
* Schmitz gaan volgende jaar ’n Duitse rolprent, Russian Disco, skiet. Dit handel oor jong Russe wat ná die Koue Oorlog na Oos-Berlyn getrek het.
Wenners
Die pryswenners van die Durbanse Internasionale Rolprentfees is:
Beste vollengteprent:The White Meadows (Iran). Regie: Mohammad Rasoulof.
Beste Suid-Afrikaanse vollengteprent:Life, Above All. Regie: Oliver Schmitz.
Beste debuut- vollengterolprent:Peepli Live (Indië). Regie: Anusha Rizvi.
Beoordelaarstoekenning vir beste regisseur: Debra Granik vir Winter’s Bone (VSA).
Beoordelaarstoekenning vir beste dokumentêre rolprent:Waste Land (Engeland/Brasilië). Regie: Lucy Walker, João Jardim en Karen Harley.
Waste Land is ook gekies as die gehoor op die Durbanse filmfees se beste rolprent, en het ook die toekenning vir menseregte deur Amnestie Internasionaal in Durban ontvang.
Beste Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent:The Cradock Four. Regie: David Forbes.
Beoordelaarstoekenning vir beste kortfilm:The Same Old Story (Spanje). Regie: José Luis Montesinos.
Beste Suid-Afrikaanse kortfilm:In A Time Without Love. Regie: Mark Strydom.
Beste akteur: Sebastian Hiort af Ornäs as Sebbe in Sebbe (Sweden).
Beste kinematografie: Odyssey Flores vir Lola (Filippyne).
Beste draaiboek: Efthymis Filippou en Giorgos Lanthimos vir Dogtooth.
Spesiale beoordelaarsvermelding:Imani (Uganda). Regie: Caroline Kamya
Spesiale vermelding vir dokumentêre rolprent:Mugabe and the White African (Engeland). Regie: Lucy Bailey en Andrew Thompson.
Spesiale vermelding vir kortfilm:The Abyss Boys (Suid-Afrika). Regie: Jan-Hendrik Beetge.
- Die Burger