Realiteitsreeks vir Kirstie Alley
2009-11-04 14:52
Los Angeles – Kirstie Alley gaan eersdaags in ‘n nuwe A&E-realiteitsreeks oor haar lewe as ‘n enkelma en haar pogings om gewig te verloor, te sien wees.
Die netwerk het tien halfuur episodes van die ongetitelde reeks, van die Amerikaanse Idol vervaardiger, FremantleMedia, in Noord-Amerika bestel. Die program gaan die aktrise by haar huis saam met haar tieners volg, by die werk en ook soos sy ‘n nuwe gewigsverliesprogram gaan bekendstel.
Die 58-jarige Alley, wie al in Veronica’s Closet en Cheers te sien was, het in 2005 in die komediereeks Fat Actress verskyn. Sy het haarself gespeel, en hoe sy tred hou met Hollywood se beheptheid oor maerwees.
Sy was ook al woordvoerder vir die Jenny Craig dieetprogram.
Die A&E-reeks word in 2010 uitgesaai.
- AP