Reaksies op Skoonheid uiteenlopend
2011-05-19 09:23
Skoonheid, die eerste Afrikaanse en die tweede Suid-Afrikaanse rolprent wat in die kategorie Un Certain Regard op die Cannes-rolprentfees draai, ontvang gemengde resensies.
Die invloedryke Hollywood Reporter meen die prent ploeter voort.
Dit handel oor ’n middeljarige man (Deon Lotz) wat ’n gevaarlike obsessie met ’n familievriend se seun (Charlie Keegan) ontwikkel. Dit word verder beskryf as ’n “kortprent wat uitgerek is om ’n vollengte rolprent te wees”.
Voorts “sukkel die prent om werklik op dreef te kom, ten spyte van ’n baie sterk vertolking deur Lotz”.
Die statiese gebruik van grootskerm-kinematografie “vertraag ook die ritme van die prent”, aldus die Hollywood Reporter, ondanks die knap kinematograaf Jamie Ramsay (wat dele van District 9 verfilm het). Die resensent meen voorts die prent faal as kritiek op Suid-Afrikaanse hipermanlikheid wat dit duidelik poog te wees.
Variety se Jay Weissberg meen die prent is goed geregisseer en is ’n verbetering op Oliver Hermanus se debuut-prent, Shirley Adams.
Hermanus is ook geloof vir sy sensitiewe uitbeelding van mense in ’n krisistyd en vir die lot van die wit middeljarige man in die nuwe Suid-Afrika.
Weissberg meen die prent behoort nie vasgevang te word in die “gay ghetto” nie, maar behoort ’n lewe op die kunskringloop te hê. Lotz is weer geloof vir sy “stil en intense spel”. Weissberg het nie probleme ervaar met die kinematografie nie. Hy het dit as “treffend” beskryf en die klankbaan van Ben Ludik “gesofistikeerd” genoem.
Skoonheid is die eerste ko-produksie tussen Frankryk en Suid-Afrika nadat ’n verdrag verlede jaar op die fees onderteken is. Hermanus het die prent in Frankryk ontwikkel by die stigting Cinefondation. (Die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Schmitz se Mapantsula het in 1988 in Un Certain Regard gedraai.)
- Die Burger