Raaigras moet waai vir U2-konsert in stadion
2011-02-07 07:03
Theuns van der Westhuizen
Kaapstad – Die Kaapstad-stadion se raaigras word glad gesny vir die U2-konsert oor twee weke, en sal eers weer in Mei gereed wees vir sportbyeenkomste.
Werkers het gister begin om al die gras op die speelveld van byna 11500 m² te verwyder vir die groot U2-konsert op 18 Februarie.
Altesame 72000 kaartjies is vir dié konsert beskikbaar gestel en werk moet nou reeds begin om ’n reuse-verhoog in die stadion te bou.
Die plan was aanvanklik om die gras in blokke los te sny en elders te hou sodat dit ná die konsert weer gebruik kan word. “Toetse het egter gewys dat dit nie gedoen kan word nie,” het Louw Visagie, bedryfshoof van die stadion, Sondag verduidelik.
“Die gras kan ook nie tot ná die konsert bedek word nie, want dan kan dit begin muf en sleg ruik. Dit word dus kort afgesny – gelyk met die grond – en weggery.
“Die tonne grassnoeisels wat in 750kg-sakke weggery word, sal egter nie verlore gaan nie. Dit sal op die plaas Groenvlei tot kompos verwerk word.
“Nuwe gras sal ná die konsert gesaai word. Die raaigrassaad sal binne sewe dae ontkiem en ses weke later ’n 50%-bedekking vorm. Dit duur so agt weke om ’n volle bedekking te kry.
“Ons sal dus teen 28 Mei weer ’n wedstryd op die speelveld kan aanbied.”
Die meeste mense wat die U2-konsert bywoon, sal in die stadion-sitplekke geakkommodeer word. Groot getalle sal egter op die speelveld voor ’n reuse-verhoog staan.
Die speelveld sal – nadat die gras afgesny is – met spesiale beskermende teëls bedek word. Dié teëls is uit die buiteland ingevoer om die speelveld by geleentheid te bedek.
“Daar is twee soorte, waarvan die sterkste maklik ’n swaar vragmotor kan dra. Dit sal sorg dat die grondbasis van die veld nie beskadig word nie.
“Vir kleiner konserte sal ons nie die gras afsny nie. Ons sal die gras net vir ’n paar dae – sê so ses dae – met die beskermende teëls bedek. Die verhoë sal dan ook kleiner en agter die doellyn gebou word.”
Die U2-konsert is die groot konsert vir vanjaar, maar nie die enigste wat in die stadion aangebied word nie.
Die stadion is reeds bespreek vir ses ander – wat elk plek vir sowat 40000 mense sal hê. Dit sluit in konserte van Neil Diamond, Cold Play, Bon Jovi en Kings of Leon.
Lesley de Reuck, stadiondirekteur, het vroeër gesê die bestuurspan kry talle versoeke vir die gebruik van die stadion. Dit sluit in enigiets van konserte en sportbyeenkomste tot die vervaardiging van rolprente en hou van huweliksonthale.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger